Kaapstad is reeds op die toekomspad
2009-11-23 08:26
Die gedoente rakende Trevor Manuel en die nasionale beplanningskommissie het bevestig wat baie mense al lank vermoed – dat pres. Jacob Zuma se leierstyl is om ANC-beleid te verduidelik.
Hy lei nie. Hy wag totdat dit onmoontlik is om langer stil te bly.
Weke lank is berig oor druk van links om Manuel se rol en invloed te verminder en hoe die alliansie saam oor beleid besluit.
Totdat Zuma daarop gewys het dat beleid deur die ANC gemaak word, dat ekonomiese beleid die organisasie en nie ’n enkeling s’n is nie en dat die Manuel-besluit deur die nasionale uitvoerende komitee van die ANC geneem is.
Einde van die storie.
Tog dalk die begin van ’n ander, naamlik wat dit vir die toekoms beteken as die ANC voortgaan om so te dobber tussen besluiteloosheid en vertraagde reaksie.
Hier moet gekyk word na ’n paar dinge.
Die ANC is steeds verreweg die grootste party, maar sy gom is nou minder ideologie en bevryding en al hoe meer oor wie kry die meeste gewin uit die blote besit van die mag.
Dus, die pad gaan makliker word vir opposisiepartye, ook omdat ons stemstelsel ’n gestadigde oorgang van ’n eenparty-situasie tot ’n veelparty-demokrasie vergemaklik.
Proporsionele verteenwoordiging se normale uitgang is ’n velerlei partye, waarvan ’n dosyn of wat die parlement haal en dat dit tot koalisievorming lei omdat geen party ’n meerderheid kry nie – soos reeds in Kaapstad gebeur het.
Op nasionale vlak is Suid-Afrika nog ’n uitsondering op die reël.
Maar dit kan geargumenteer word dat die ANC sy boonste draaipunt bereik het en dat die lang afdraande nou voorlê.
Hoe lank, is natuurlik die vraag.
Maar kyk na hierdie scenario: In die afgelope verkiesing het die ANC op nasionale vlak slegter gedoen as in vorige verkiesings, nog swakker op provinsiale vlak (behalwe in KZN, waar die Zoeloe- etniese faktor ingeskop het) en nog slegter in die groter stedelike gebiede (behalwe, weer, in Durban).
Tel hierby ’n ANC-dokument wat daarop dui dat die party hard sal moet veg om Pretoria, Johannesburg en Port Elizabeth in 2011 se plaaslike verkiesings te behou en nuwe moontlikhede word duidelik.
Nie dat die ANC binnekort die mag gaan verloor nie – hy gaan bloot gedwing word om die mag met ander in ’n koalisie te deel.
Dit kan al op plaaslike vlak begin in 2011.
Dit is makliker om teen jou party op dié vlak te stem, want dit stuur ’n waarskuwing uit sonder dat dit die nasionale prentjie verander.
Die patroon mag hom dan op provinsiale vlak herhaal – dalk aanvanklik die Noord-Kaap en Gauteng.
En dalk sal die ANC op nasionale vlak ná nog ’n verkiesing – wie weet, dalk hier rondom 2019 – ’n koalisie-vennoot aan boord moet neem.
Die boodskap sal van onder kom: Dit is eenvoudig nie waar dat die ANC vir altyd sal regeer nie.
DIE ANDER KANT
- Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Harald
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.