In Sharpeville is daar nie veel te vier
2010-03-23 07:50
Vandag is Sharpeville-dag.
In die nuwe Suid-Afrika het dit Menseregtedag geword.
Maar vir die mense van Sharpeville, waar die tragedie 50 jaar gelede plaasgevind het, is daar vandag nie veel om te vier nie.
Natuurlik sal hulle met weemoed terugdink aan daardie dag toe die polisie 69 mense doodgeskiet het – ’n gebeurtenis wat die aandag soos géén ander nie op Suid-Afrika gevestig het en die internasionale mening teen die ou Suid-Afrika laat swaai het.
’n Tyd gelede het ’n boek met die titel An Ordinary Atrocity: Sharpeville and its Massacre oor die gebeure verskyn.
Mense is deur die polisie doodgeskiet, maar dit was nie beplan nie en daar was geen voorbedagte rade nie. Dit was ’n blote fout, ’n ongeluk.
Nogtans, 69 mense is dood en dit het emosie losgemaak – en ten regte natuurlik. Maar sover dit massamoorde aangaan, was dit nie juis heel bo aan die lys nie. Dit vergelyk nie met die 24 000 van sy eie mense wat Robert Mugabe in die vroeë 1980’s in Zimbabwe laat doodmaak het nie.
In Sharpeville is mense nie lus vir feeste nie. Hulle is ongelukkig oor gebrekkige dienslewering; omdat die slagoffers van die massamoord nie geëer word deur straatname na hulle te vernoem nie, maar eerder na ANC-funksionarisse; dat die PAC, wat aan die voorpunt van die destydse protes gestaan het, heeltemal geïgnoreer word, nee, eenkant toe geskuif word.
Die ANC was net so onkant betrap deur die gebeure in Sharpeville as die polisie.
Net soos vandag se ANC onkant betrap word deur die landwye opstand – gewone burgers wat klippe gooi omdat daar geen dienste is nie, maar die ANC-hoës in groot motors rondry en lekker leef. Of onkant betrap is deur belastingbetalers wat hul dienstegeld weerhou en hul dienste self lewer. En almal rol van die lag as Jacob Zuma ’n debat oor moraliteit voorstel.
Intussen word die staat steeds beroof. Die ANC as party deel in die reuse-tender vir kragsentrales en gaan nou via “vriende” regte kry in Si-shen. Die Zuma-gesin se groeiende geldryk is die afgelope week in die media blootgelê; die skande rondom genl. Siphiwe Nyanda se tenders duur voort; en, en, en. Die lys is te lank om te noem.
Maar ons hoor steeds van optrede teen korrupsie, van ingryping rondom tenderprosedures, van nuwe planne om werkloosheid te verminder, om ’n “nuwe” nywerheidsplan van die grond af te kry, van onderwysers wat moet klas gee, van verpleegsters wat moet verpleeg…
Maar die gaping tussen dít wat die ANC predik en wat hy doen is so groot dat niemand dit kan miskyk nie.
En dan wonder Zuma hoekom Suid-Afrikaners nie in groter getalle by openbare vieringe opdaag nie. Ons bly liewer by die huis en huil – of lag – daaroor.
Die ANC-regering is besig om stadig maar seker ineen te stort. Oor die kleurgrens heen kan ons deesdae net met ’n kopskuddende “eish” van die regerende party praat.
Sy arrogansie, sy drang om almal by sy planne te laat inpas, sy onvermoë om die basiese administrasie te hanteer – eish!
– Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Harald
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.