Gesprek oor ras is wel nodig
2009-08-17 09:05
Ons president dink dis nie nodig om ’n debat oor ras te voer nie.
’n Mens wens hy was reg, maar ongelukkig is dit ’n kwessie wat hanteer moet word – al is dit net omdat “transformasie” al hoe meer sinoniem word met die swartmaak van die ganse Suid-Afrika.
Om by die begin te begin: Die ANC, tot sy lof, het vir dekades lank in sy stryd teen rassisme en onderdrukking vasgehou aan sy benadering van nie-rassigheid – nie veel-rassigheid soos minister Lindiwe Sisulu onlangs gesê het nie.
Op grond daarvan sê Zuma ’n debat oor ras is nie nodig nie, want die ANC het nooit in sulke terme oor Suid-Afrika gedink nie.
En tog is daar ’n opmerklike verskuiwing te bespeur. Van regter John Hlophe wat vra dat die reg in Suid-Afrika meer op inheemse reg gebou word tot Julius Malema wat aandring dat “regte” swartes (dus nie bruin mense of Indiërs nie) aangestel word as hoofde van die groot ekonomiese instellings.
Hierdie uitsprake moet saamgelees word met die druk om hierdie of daardie sport te “transformeer”, met die skielike bevraagtekening van die volkslied en met Sisulu se vraag oor wat eintlik met “transformasie” bedoel word.
Laat ons nie daaroor twyfel nie: Hierdie is ’n debat oor die feit dat Suid-Afrika steeds in aanskyn en benadering nie “Afrika” genoeg is nie.
Die vraag is of dít die rigting is wat ons moet inslaan. En daaroor moet ons beslis praat.
Maar eers dit: Daar is geen veiligheid of voorspoed vir enigeen indien die verskille in geleenthede vir werk, opleiding en welslae nie vir almal in die land gelyk is nie – en hierdie is nie ’n pleidooi vir sagter regstellende aksie nie.
Dit is ’n eenvoudige waarheid dat kommersiële (lees wit) boere veel beter daaraan toe sal wees hoe meer suksesvolle swart boere daar is. Dan is die landboukwessie een wat oor voedselproduksie en grondbesit gaan en nie oor ras nie.
Daar moet regstellende aksie wees – maar anders – en daar moet swart bemagtiging wees – maar anders as wat ons nou het.
Regstellende aksie moet bly by die oorspronklike benadering: Meer geleenthede vir meer swart mense met meer hulp (hoewel dit vir my baie paternalisties klink!), maar wanneer die swart aansoeker klaarblyklik nie die mas opkom nie, moet die witte aangestel word. Bemagtiging durf nie gaan oor die verryking van die minderheid nie, maar die woord moet in sy breedste beskrywing gesien word – opleiding, onderwys, ook aandeelhouding. Dus, ware bemagtiging om ’n beter lewe te kan hê.
Maar Hlophe en Malema en dié agter hulle – sonder twyfel is hul gelykstelling van ras en transformasie in breë kringe bespreek – wil verder gaan: Suid-Afrika moet sy Afrika-karakter uitdra.
Maar dié benadering gooi ’n belangrike deel van die ANC se filosofie oorboord, naamlik “dat Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon”.
En dis daardie “behoort” waaroor gepraat moet word. Die reg van almal om hier te wees, is lank nie meer ’n kwessie nie.
Maar “behoort” is ook “tuis voel”. Almal moet tuis voel, almal moet aan die huis bou waarin almal woon – en dit beteken dus ’n kompromie: Afrika, uit die aard van die saak, met ’n sterk Europese invloed, ietsie uit Indonesië wat oor die jare sterker Europees geword het, en ’n smakie uit Indië.
Dit is Suid-Afrika.
Wanneer Sisulu dus praat van “transformasie” moet al hierdie werklikhede in ag geneem word.
Alle bevolkingsgroepe het die onvervreembare reg om te help definieer wat dit is om daardie mitiese figuur – ’n Suid-Afrikaner – te wees. Dit beteken dat die Hlophes en Malemas nie hul sin kan kry nie; ook nie die Afrikaner nie.
Maar deurslaggewend is dat een deel van die nasie nie alleen kan voorskryf hoe die toekoms moet lyk nie. Dit veronderstel ook dat almal bereid moet wees om die gesprek te voer. Wat op sy beurt weer veronderstel dat daar ’n volledige toewyding tot die land en ’n volle deelname aan al sy strukture is.
En geen ONS en HULLE benadering nie.
Dus, kom ons praat, mnr. Die President.
– Oorspronklik verskyn in Rapport
Stuur jou kommentaar aan Harald
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.