Hanlie gesels met Emo Adams
2012-02-06 07:32
Hy’s tall, dark en Afrikaans. Of is dit nou short, white en stubborn? Hy weet ook nie meer aldag nie. Justin Bieber? Daddy Cool? Huh-uh. Emo Adams. Mitchells Plain-klong. Violastraat, Lentegeur. Grootgeword soos ’n distel tussen stories en grappe en ghoemas en brasse.
Stilstout gewees, onthou hy, ’n phantom vannie Vlakte wat pouses Parkerpenne steel. En toebroodjies, stilletjies.
Steeds stil, belowe hy, “actually activate ek net op die verhoog!”
Mense vra hom altyd: Nou wat verkies jy, Emo? Sing, dans of entertain?
Dan Al Debbo hy sy oë vir hulle.
“Dis amper soos om te vra wat laaik jy die meeste van ’n kar? Die enjin of die battery? Als moet daar wees, die hele package.”
Hý rol hoeka met ’n geborgde package: ’n blinkswart Mini Cooper Convertible. “En dis ook hoekom ek my soort hare laaik. Die wind doen niks daaraan nie. As ek inklim lyk ek cool, en as ek uitklim lyk ek cool.”
Vir sy meisie, die skoonheidskoningin Michelle Gildenhuys, ry hy altyd ’n serpie saam sodat haar lang, donker hare nie deurmekaar waai nie. “So ’n kleine doekie in my cubby-hole. Wit met rooi dotjies, jy moet, dis hoe jy rol.”
Op die internet twiet die girls oe-Emo-jy’s-so-sexy, bly liewer single. Nee, keer hy daar onder sy geel pet, “die ou wat currently die goose’e kry, is Bobby van Jaarsveld”.
Onderklere reën gereeld vir Emo op die verhoog wanneer hy optree.
“Ek mind nie, maar girls, gooi net my size ’seblief, as dit te groot is, weet ek nie wat om daarmee te doen nie...”
In die Adams-familie se nuutste verhoogstuk, My broe’tjie, my bra, vertel hy en sy broer Loukmaan geil Plain-stories, soos die dag toe die vyfjarige Emo raak gery is.
Emo leun vorentoe oor die wit tafel in die laatmiddag-restaurant. Dis hy en sy melkkoffie en sy storie.
“My pa het ons oor die veldjie gestuur om te gaan koerant koop. Op die way terug, toe kom ruk ’n wille Mitchells Plain-wind die koerant uit onse hand. Ek’s agter die koerant aan, en daar sien ek nie die kar nie.
“My broer onthou ek het oor ’n Golden Arrow-bus gevlieg en ek het alles gebreek. Dan sê ek vir hom, bra, dit was net ’n kleine Volksie-karretjie, maar sy colour was gold. En ek het nét oor hom gewip en my arm gebreek.”
En hul pa? “Al wat hy wou weet, is waar’s sy koerant...”
Daar is twee mense vir wie Emo graag in ’n huldeblyk wil speel: Al Debbo, vir wie hy “allemintige” respek het, en sy mentor, David Kramer.
“David is die eerste bra wat my laat dink het: Dís wat ek wil doen. Onthou jy hom op die fiets agter Gus die Volksiebus in daai TV-ad? Ek het by my ma geneul vir rooi tekkies, want dit trek die aandag en ek sóék daai vibe.”
Taliep Petersen was die ou wat vir Emo gesê het: “Broe’tjie, jy moet begin Afrikaans sing.”
“Ek onthou sy woorde: ‘Afrikaans is ons erfenis, Emo. Kyk die Maleierkore, kyk die Klopse, maar doen dit net ’n bietjie anders.’”
Sy eerste optrede by Aardklop was in die seisoen toe "De la Rey" ’n trefferlied geword het. “Nou nié ’n goeie tyd vir my om te start nie. My show was boonop toe net liedjies, niks jokes nie. Jis man, en die mense doze off. Klap nie. Lag nie. Niks nie. Ek’t backstage gaan sit en amper gehuil.”
Die sanger David Fourie gee hom toe die raad om net homself te bly, die grapkas-Emo wat sy pêlle ken.
“Die volgende dag stap ek daai verhoog op: ‘Dames en here, gister het niemand my gelaaik nie. Obviously kyk julle na die kleur van my vel en luister hoe ek praat. En ek wéét wat julle dink, en ek wil vir julle sê julle’s reg: Ek ís ’n baie mooi man.’”
’n Glimlag steek vas agter sy oë. Pokergesig.
“Toe die mense lag, werk my kop soos ’n Apple Mac deur al my grap-files.”
Ná die tyd kom sê ’n ernstige oom vir hom: “Luister, ek’s eintlik ’n 'De la Rey'-fan, maar jy’s nogal oukei.”
En dis hoe dit begin het vir Emo Adams.
“Ek het gesien humor maak die pad. Alliepad. Ek push limits. Wat secretly begin het as fun, het vir my ’n plig geword om mense bymekaar te bring.”
Kultuurkruisings
Soos die keer in Jozi toe hy die Leeuloop in ’n Bollywood-musiekblyspel gedoen het. Só oortuigend was sy Hindi, ’n week later het hulle vir hom ’n hoofrol gegee.
Treflyn? “Julle dink natuurlik ek is ’n Indian. Maar hei (gly hy in ’n Indiese sangstem), ek’s-nie-hie ien-die-in nie-hie, ek’s ’n coloured, bra-a-a!”
Ons brul van die lag hier om die tafels, kelner inkluis. “Eendag nog gaan iemand my dagvaar of ’n sniper gaan my innie boud kom skiet!”
’n Paar jaar terug op die KKNK, omring deur T-hemde met die ou vlag waarop staan “100% Boer”, bekyk Emo die storie so... en hy dag: Boem, Emo, daarmee kan jy hárdloop.
“In my show spin ek toe die storie hoe’t ek vir ’n wit meisie gaan kuier met die pa wat my corner oor hoe mens altyd trots moet wees op jou herkoms. Hy wil net vir mý sê hy’s 100% Boer. En wat’s jy? vra hy.
“100% Boer se tjommie, Oom.”
Emo se “100% Boer se Tjommie”-T-hemp was ’n treffer. “Die mense sien hiérdie tjommie druk die grense, hy’s nie bang nie. Hy deflate dit.”
Hy wil mense ánders na dinge laat kyk, met ’n nuwe perspektief, “dís wat ek heeltyd probeer”. En almal wat so aangaan oor bruin celebs wat wit modelle date? Vir hulle wil hy net sê: “Wát? Michelle is wít? O my patatas, ek het dit nooit raakgesien nie!”
Baie dinge in drie dekades het Emo al “ge-activate”, soos hy dit stel. Op nege reeds in District 6: The Musical, in Kat and the Kings tien jaar lank die wêreld vol getoer. Hy was al van “lounge singer tot cabaret artist tot cruise director” op ’n passasierskip. En hy kan nie eens swem nie... “As ek op daai Costa-skip was, sou ek die kaptein betyds gaan sê het: Daar’s ’n klip, bra, jy moet draai.”
Twee nuwe reekse van sy gewilde Jou show met Emo op kykNET is pas goedgekeur; hy “ruk” al wat ’n fees is; by sy aanlyn-Emo-winkel kan jy plakkate, poskaarte en Emo-tions-parfuum bestel.
Kortom, Emo is ’n handelsmerk. ’n Brand wat vlamvat.
Die heel eerste pieng wat die “Eskom-liggie” in sy kop laat aangaan het, was die Breakaways Nagtroep, sy pa se Maleierkoor.
“Ek was ses, toe mag ek saam met my pa in sy ou Escort kooroefening toe gaan. Vyftig ooms wat harmonise... Jisterday, dit was insane, so mooi was dit.”
Emo het die verskillende koor-kategorieë tjoepstil gesit en uitluister. Solo, Nederlands, combined. Toe dit kom by die comic song, toe pieng die liggie vir hom.
Hy’t altyd gedroom van big bands en swing, altyd gehoop hy’s die volgende Michael Bublé. Maar toe Emo weer sien, toe’s hy die swart Steve Hofmeyr, terg hy, sing hy:
Ek gaat na Petrus Steyn, ek kom daar en die traffic is verward,
die mense sê jy lyk soos Steve, maar jy is ’n bietjie swart...
“Ek sit eenkeer op ’n klein lughawe en wag en ek hoor ‘Awê, my broer.’ Toe ek omkyk, toe’s dit Steve.
“Hy vra my hoekom het ek hom nog nooit genooi om saam met my te sing nie? Toe’s ek net laaik oorwéldig. Ek sê: Want jy’s STEVE HOFMEYR! My hero!
“Ek was lankal ’n fan. Van Agter elke man tot by die pampoene, en deur jou vingers val, en my liefie my lyfie, my diefie my duifie en hier te kort en daar te lank. Ek ken állie goeters.”
Met Coenie de Villiers se huldeblyk op Skouspel het Emo skoon tranerig geraak. Hy verstaan die lang sangpad van mense soos David, Coenie, Laurika, Koos Kombuis.
“So as een van hulle erkenning kry, dan sê ek: ‘Dude, as jy nie daai gedoen het nie, het ek nie nou hier gestaan nie.’”
As komediant word hy dikwels met Trevor Noah vergelyk.
“Snaaks,” sê hy as jy hom vra na Noah se groot sukses op die Tonight Show in Amerika, “ek het nog niks van hom gesien nie, behalwe die Cell C-advertensies. Maar ongeag wie hom laaik of nie, hy doen sy ding. Dis goed vir Suid-Afrika. Mens moenie oor ander worry nie, net oor jou eie lewe.”
In dié bedryf moes hy leer om die lekker én die sleg te vat, sê Emo, sy stem lig, net líggies emo-sioneel.
“Jy moet besef nie almal hou van jou nie. Vroeër was ek: O, pity jy hou nie van my nie. Nou’s ek: Dude jy’s gesuip, hoe justify jy dít?”
Later, terwyl ons die Artscape-trappe drie-drie opdraf na sy repetisie toe, vertel hy van sy alleentrippie laas maand langs die Kaapse suidkus op, elke dag by ’n ander spa.
Dis partykeer sowaar lekker om alleen te wees, het die trippie Emo geleer. Hy’t liedjies geskryf, perspektief gekry oor die lewe.
Deesdae lees hy met oggendkoffie The Prophet langs die swembad.
“Soms woel als so erg, jy waardeer nie meer die lewe nie,” raak hy diep, knipoog vir die deurwag, kyk op sy Breitling hoe laat hy kláár vir die repetisie is, gee my sommer ’n druk, swenk tussen die dansers by die deur in, dis talent, dis energie, dis die 180 km/h- gladdebek package van ’n Emo.
– Oorspronklik verskyn in Rapport.
Stuur jou kommentaar aan Hanlie
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.
- Rapport