Spyt kom te laat vir kaal sterre
2012-06-11 10:13
Wat doen jy met jóú selfoon?
Die meeste van ons gebruik dit vir alledaagse takies – die gesprekke met ma (of, die hemel help ons, skoonma!), werksoproepe, SMS'e, kitsboodskappe en speletjies.
Party van ons gebruik ons selfone se GPS-stelsels wanneer ons 'n nuwe pad aandurf, roep die sakrekenaar op wanneer ons inkopies doen of gebruik een van die magdom nuwe toepassings wat die lewe op soveel gebiede al hoe makliker maak.
As jy jou selfoon vir dié take gebruik, kan jy jouself op die skouer klop – jy's 'n gewone mens.
Bekendes, daarenteen, gebruik blykbaar nie hulle blink slimfone vir dié sinnelose takies nie. Dít is mos heeltamal te gewoon, lyk dit my.
Nee: As jy 'n superster (of 'n sukkelende ster!) is – veral as jy 'n lid van die skoner geslag is, en moontlik 'n rol in 'n realiteitsreeks het – gebruik jy jou foon amper uitsluitlik vir een doel: om naakfoto's te neem.
Ja, net so.
Dié gevolgtrekking het ek gemaak ná nóg 'n bekende se naak skandes onlangs op al wat 'n skinderwebwerf is, opslae gemaak het.
Dié keer was die arme slagoffer die realiteitstelevisiester Snooki, oftewel Nicole Elizabeth Polizzi, televisiepersoonlikheid van MTV se Jersey Shore-faam – wat boonop swanger is met haar eersteling.
Natuurlik het ek al die simpatie in die wêreld met Snooki. Geen vrou se privaatheid mag op dié manier geskend word nie, en 'n mens kan net wonder hoe dié foto's op die internet beland het. Episodes soos dié moet veroordeel word.
Tog kan ek nie anders as om te wonder oor dié vreemde tendens nie. Dit lyk of elke tweede aktrise deesdae 'n lêer met naakfoto's op haar selfoon ronddra.
Snooki is mos net die jongste slagoffer in dié vlaag naakfoto-onthullings. Ook Scarlett Johansson en Blake Lively het in die laaste paar maande deurgeloop, toe hulle selfone gekraak is en foto's met die hele wêreld gedeel is. En dié twee is maar net twee van die meer prominente persoonlikhede wat dié skande al oorgekom het.
Boonop is dié klomp is ook maar net die jongste in 'n lang lys bekendes wat deur die jare deur middel van tegnologie in die verleentheid gestel is. Sommige van dié dames het bekend geword, of meer bekendheid verwerf, juis oor hulle naak skandes. Hier dink ek aan mense soos Paris Hilton, Kim Kardashian en Pamela Anderson.
Wat is hier aan die gebeur?
Noem my onsensitief, maar as jy naakfoto's neem op 'n toestel wat moontlik in iemand anders se hande kan beland – veral in hierdie era van aanlyn-diewe – is jy mos besig om moeilikheid te soek!
Sterre soos Snooki en kie, wat lang trane huil wanneer hulle skandes met die wêreld gedeel word, is mos in die eerste plek nie veronderstel om sulke foto's te neem (of laat neem) nie.
Is ek die enigste mens in die wêreld wat nie sy foon vir naakfoto's gebruik nie? Of is dié "sterre" net besonders naief?
Jy kan nie met vuur speel, en dan kla as die hele YouTube vol video's is wat wys hoe jou kamer afbrand nie...
Stuur jou kommentaar aan Gigaben
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.