Om nie te kan sien nie...
2012-06-18 07:50
Gisteraand sit en luister ek aandagtig terwyl Don, 'n blinde man met geen arms, vertel van sy lewensfilosofie en avonture.
Anders as wat 'n mens verwag, skop hy nie af met 'n relaas oor hoe moeilik die lewe is sedert die ongeluk meer as twintig jaar gelede wat sy wêreld verander het nie.
O nee. Don vertel van die keer toe hy Kilimanjaro uitgeklim het. Hoe hy sy seiljag-avontuur in Zanzibar geniet het en hoe hy twee knewels uitgetrek het op die oop see. Hy wys foto's van sy avonture in die Overberg, vertel hoe hy sy vrou ontmoet het en verduidelik trots dat sy kinders sy hele uitkyk op die lewe verander het. Hy deel stories van sy familie en vriende, en vertel van sy toekomsplanne.
Sy entoesiasme is aansteeklik.
Snaaks hoe baie 'n mens kan leer by iemand wat die lewe lééf.
By Don het ek twee goed geleer:
Eerstens, dat 'n mens dikwels die gewig en impak van die verlede in ander se lewens onderskat.
Ek moet bieg: Tot dusver het mense se stories oor die Grensoorlog my koud gelaat. Middeljarige mans se vertellings oor hulle dae op die grens en die feit dat dié deel van die geskiedenis misken word, het nog nooit veel van 'n reaksie by my ontlok nie. Dit was nog altyd iemand anders se oorlog, iemand anders se geveg, iemand anders se probleem.
Maar Don se relaas oor sy laaste dae as siende man in die weermag, en die storie oor die landmyn wat in sy gesig ontplof het, het dié era vir my lewend gemaak. Skielik het ek empatie gehad met dié man wat vandag, meer as twintig jaar later, steeds die merke van dié konflik aan sy lyf dra. Sy lot, en die lot van die mans wat saam met hom op die grens was, het my skielik geraak – net omdat ek 'n mens agter dié storie leer ken het.
Hoe baie keer, het ek later gewonder, onderskat ek nie die impak van die verlede op die lewens van ander mense om my nie, bloot omdat ek nie hulle stories ken nie? Miskien sou ek meer empatie gehad het met die enkelma in Thembisa as ek meer van haar agtergrond geweet het. Miskien sou ek meer bereid wees om die outjie wat onder die brug langs die stadsaal slaap 'n helpende hand te verleen as ek geweet het wat dit was wat hom in dié posisie gekry het.
Miskien moet my oë meer oop wees vir ander se stories.
Ek het ook geleer die verlede is geen verskoning vir wat jy met die hede maak nie.
Hoe maklik kon Don nie, op grond van die merke van sy verlede, terugsit en moed opgee nie? Hoeveel keer gebruik ons nie ook óns agtergrond of verlede as verskoning vir ons onbereidwilligheid om dapper te wees en iets daadwerkliks te doen nie?
Hoe baie keer is ons oë nie toe vir geleenthede nie omdat die verwagtinge wat deur ons verlede gestel is, ons reaksie in die hede bepaal?
As daar een ding is wat vir my duidelik is ná my gesprek met Don is dit die volgende: Dis een ding om nie te kan sien nie. Dis 'n heel ander ding om blind te wees.
Stuur jou kommentaar aan Reisiger
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.