Nkandla-sage draai nou in buiteland
2012-11-26 08:06
Een van die grootste voordele daarvan om 'n paar jaar in die buiteland te woon, is dat dit jou 'n ander perspektief gee op die wêreld.
Dit verbreed nie net jou horisonne nie, maar gee jou ook 'n goeie blik op wat mense uit ander dele van die wêreld van jou land en sy mense dink.
In my en my gesin se tyd in die Verenigde Koninkryk, moes ons byvoorbeeld dikwels mense se wanopvattings oor Afrika, en Suid-Afrika spesifiek, probeer regstel.
Glo dit of nie, maar in die 21ste eeu is daar steeds bewoners van die ontwikkelde wêreld wat vas glo dat ons in modderhutte sonder lopende water bly, terwyl leeus deur die strate sluip.
Dis om dié rede wat ons maar te bly was vir projekte soos die 2010 Wêreldbekersokkertoernooi – enigiets om mense se wanopvattings van die land 'n bietjie reg te stel.
Soms is dit egter een stappie vooruit, en drie terug. En dit is presies wat die Nkandla-sage hierdie naweek veroorsaak het.
Dit alles danksy 'n berig in die Daily Mail wat van die "opknappings" aan pres. Zuma se woning in Nkandla vertel op presies die manier wat buitelanders ons sien.
Die opskrif van die berig, 'n allemintige dubelloop-hoofsin, het die storie vertel presies soos dit in dié geweste gesien word: "VK gee £19 miljoen in noodlenigingsfondse aan Suid-Afrika – sy president spandeer £17,5 miljoen op sy paleis".
Net so.
Die inhoud van die berig vertel hoe die president in weelde leef, terwyl minstens 13 miljoen van sy mense in armoede vergaan.
Die prentjie wat geskets word lyk presies soos dié van ons aan die verkeerde kant van die sage dit nog altyd gesien het: Die storie van 'n president wat so uit voeling is met sy land dat hy in weelde leef, terwyl sy mense vergaan. 'n Afrika-diktator wie se sakke bult terwyl sy mense voortsukkel.
Vergeet van al die harde werk wat ons die laaste paar jaar gedoen het. In die oë van die wêreld is Suid-Afrika weereens niks meer as ‘n mislukte derdewêreld-land nie.
Dit gaan interessant wees om te sien hoe dié storie hom in die volgende paar dae uitspeel.
Een ding is seker: Nkandla het verseker dat buitelanders se beeld van Suid-Afrika weereens een is van 'n agterlike kleptokrasie wat beheer word deur 'n gevoellose leier wat uit voeling is met sy mense.
Wie gaan dié skade herstel?