Kersfees in Windhoek
2012-12-24 07:30
Ek weet nie of dit vandag nog die gevoel onder die Windhoekers is nie, maar destyds as jy Kersfees tuis gevier het, in plaas van Swakopmund of die Kaap sê nou maar, het jy 'n simpatieke kyk gekry.
"So wat doen julle vir Kersfees?"
"Ons is net hier by die huis Oom."
"Nou wat gaan julle dan doen?"
"My pa gaan seker maar braai Oom. Dalk gaan ons Kersdag dam toe".
So pak almal op vir die see en teen die 15de, 16de Desember is Windhoek verlate en is dit die maklikste ding ooit om parkering voor die poskantoor te kry.
Jy wat agterbly moet die bure se honde kos gee, tuine nat maak en die huise se ligte in die aande gaan aanskakel.
Een jaar wat ons wel weggegaan het vir die feesseisoen was toe my pa die motor gepak het vir 'n Kaap-vakansie.
Die Goue Akker, Juicy Lucy, Milky Way en die kabelkarretjie was daai tyd wonderlike, vreemde ervarings.
Met die terugrit was die sit vreeslik ongemaklik want die motor is volgepak met bokse van die Kaap se soetste hanepootdruiwe en waar daar 'n gaatjie was is dit toegestop met padstalletjie- vrugterolle en konfyt.
Weke later, met al die Windhoekers terug van hul vakansieplekke, is jy egter die een wat met 'n breë glimlag jou kosblik uithaal by die skool en 'n groot hap vat van jou toebroodjie met die Kaapse konfyt!
Hierdie Namibiër woon vandag reeds agt jaar in die Kaap en eintlik is dit lekker om die een te wees wat "by die huis bly" vir Kersfees.
Maar tog sou ek my Kaap vanjaar maklik kon prysgee vir 'n Kersfees in Windhoek.
Geseënde Kersfees lesers en spesiale seënwense aan die Windhoekers! Mag dit reën op Kersdag!