Is dit nie verléde jaar se model nie?
2012-04-16 11:50
Ek sit met 'n penarie.
Ek moet steeds klaarkom met die iPhone 4.
Ja, ek weet. Sonder Siri en al daai. Ek is die ekwivalent van 'n tegnologie-dinosourus. Ek kan my net indink wat my vriende, wat almal verlede maand al die iPhone4S aangeskaf het, van my moet dink. In hulle oë is daar sonder twyfel geen verskil tussen my en die hopelose Blackberry-uitgeworpenes nie (BB is sóóóó 2009, soos my baas sê).
So asof dit nie erg genoeg is dat die nuwe iPad binnekort hier aankom nie.
Ten minste is my iPad2 nog hier in Suid-Afrika op datum (ek probeer om nie Facebook-foto's daarvan te plaas wat vriende van my in Engeland kan sien nie. Daar is die nuwe weergawe mos al ou nuus). Maar steeds... Enige swaap kan op Mashable sien my model is streng gesproke al geskiedenis.
Dié sakie is egter die minste van my probleme. Daar is veel gewigtiger kwessies wat my aandag verg.
Ek ry byvoorbeeld nog die ou vorm 3-reeks BMW. Dít terwyl produksie op die nuwe weergawe binnekort begin. Dié dat ek Sondae vyf minute laat kom vir kerk en liewers in 'n systraat parkeer.
Natuurlik sit ek ook nog met teëls in my leefvertrek. Dié sal maar vir eers moet bly (as die nuwe lening nie deurgaan nie). Toe die vriendelike ou met die laminate flooring verlede maand met die kwotasie aan die voordeur klop kry ek amper 'n toeval. Nooit geweet fake hout kos so duur nie.
Ek wens ek kon al hierdie goed uit my agtersak betaal. Maar dáái geld word klaar gebruik om my hopelose plasma-skerm te vervang met LED. Jy weet, 'n LED 3D HDTV met 3D HyperReal Engine Picture Engine en Wide Colour Enhancer Plus. Die ou model, wat my die afgelope paar maande leepoog uit die hoek van die leefvertrek dophou, is nou wel 'n platskerm, maar hy het nie al dié afkortinkies gehad nie. Boonop kan hy nie eers met my iPod of 'n USB-stokkie koppel nie. Wat beteken die ding is vir alle praktiese doeleindes onbruikbaar. En hoe anders moet ek die volle gehalte van my Blu-Ray-versameling waardeer?
Ek kan nie wag om dié outjie uit te gooi nie. Sommer in die vullisdrom met die Relaxed Fit-denims en Crocs.
Ten minste, troos ek myself, het ek dié ou rubriekie geskryf in Firefox 10.02. Dis sóveel beter as 10.
Om van 9 (En Internet Explorer!) nie te praat nie...
Stuur jou kommentaar aan Gigaben
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.