Apple die enigste wenner in dié geskil
2012-08-27 10:15
Tegnologieslawe oor die wêreld heen het verlede week met groot belangstelling gekyk hoe twee reuse van die digitale era mekaar in die hof die stryd aansê.
Apple, überkoel vervaardiger van die wêreld se mees geliefde digitale toestelle – onder andere die iPad en iPhone – het Samsung in die VSA voor die hof gedaag omdat dié maatskappy glo sy digitale innoverings "slaafs" nagevolg het, en telkens Apple se tegnologie in sy eie toestelle gedupliseer het.
Dis maklik om te vergeet hoe baie Apple die digitale wêreld verander het. Dink daaraan: 'n Mens kan jou deesdae nie die wêreld voorstel sonder byvoorbeeld die iPhone nie – maar dis maklik om te vergeet dat dié gewilde slimfoon nog nie eers op die rakke was toe pres. Barack Obama die eerste keer sy veldtog vir die Amerikaanse presidentskap begin het nie.
Tegnologiese innoverings soos die manier waarop 'n mens op Apple se toestelle op beelde kan inzoem (deur twee vingers op die skerm te plaas en 'n beeld groter of kleiner te trek) het al 'n algemene verskynsel op digitale toestelle geword – maar dis juis oor uitvindsels soos dié wat Apple besluit het om Samsung hof toe te sleep.
Die nege jurielede se besluit aan die einde van verlede week, ná 'n enkele dag se beraadslaging, was vir sommige mense natuurlik 'n skok. Die hof het ten gunste van Apple beslis – 'n beslissing wat skadevergoeding van meer as 'n miljard dollar (meer as R8 miljard) insluit. Samsung sal moet opdok – of jy dink dié maatskappy is skuldig of nie.
Maar die swaarste slag vir Samsung is sekerlik wat Apple daarna gedoen het. 'n Aansoek is ingehandig wat Samsung kan verbied om toestelle wat van "Apple se tegnologie" gebruik maak, in die VSA te verkoop. Die implikasies is enorm. Selfone soos die Galaxy S2, Galaxy S, and Nexus S word op dié lys ingesluit.
Samsung het, soos verwag kan word, die beslissing kort daarna as 'n "verlies vir die Amerikaanse verbruiker" bestempel. Dit sal lei na minder keuses en, uiteindelik, hoër pryse, het die vervaardiger gesê.
Dit is waarskynlik waar. Tog gaan een van die interessantste aspekte wees om te sien hoe dié besluit Samsung en Apple se handelsverhouding raak.
Een van die grootste vervaardigers van komponente vir Apple se iPhone en iPad is immers... Samsung.
Daarom is dit nie 'n verrassing dat Apple reeds na LG uitgereik het om komponente vir sy nuwe iPhone 5 te vervaardig nie.
Hoe gaan Apple en Samsung se verhouding na dese lyk? Dit is nie duidelik nie. Dit sal waarskynlik afhang van die sukses van Apple se poging om Samsung te keer om sy toestelle te verkoop.
Een ding is egter duidelik: Maatskappye gaan in die toekoms heelwat versigtiger moet wees wanneer hulle mekaar se innoverings gebruik. In 'n bedryf waar maatskappye gereeld ander se konsepte gebruik en probeer verbeter, kan dit inderdaad negatiewe gevolge hê vir gewone verbruikers.
Die bedreiging van hofsake en patente-dispute het nog nooit juis tot meer innovering gelei nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Gigaben
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.