Wonder bo wonder
2012-10-12 12:17
Wat sien jy as jy aan Tafelberg dink? Fynbos? Dassies? Bergstrome langs wandelpaaie? Toeriste wat toustaan om met die kabelkar te ry en die uitsig te bewonder?
Vanjaar op 3 November om 05:30 gaan 150 drawwers by Groenmarkplein in Kaapstad bymekaarkom om die Three Peaks aan te durf.
Wat is die Three Peaks? Jy begin onder in die stad en draf op, op, op tot by Duiwelspiek en weer terug tot by die beginpunt. Vanaf die beginpunt klim (kruip) jy Platteklip uit tot by Maclear's Beacon op Tafelberg. Die laaste piek is Leeukop.
Verlede jaar was my eerste Three Peaks-ervaring en dit het my 14 ure en 4 minute geneem om die 50 km-roete te voltooi. Die afsnytyd was 14 ure en al het ek die t-hemp en die Tafelberg-beeldjie ontvang as erkenning dat ek die roete voltooi het, is ek nie 'n amptelike "finisher" nie.
Die organiseerders was op daai dag so beïndruk dat ek die roete voltooi het (die eintlike rede is dat ek nooit op my horlosie gekyk het nie en dus nie bewus was hoe naby ek aan die afsnypunt was nie) dat hulle my vanjaar uitgenooi het om weer te ly.
Ek is gereed en vasberade om dit dié keer onder 14 ure (die mikpunt is 13) te doen, maar drie weke voor die wegspring begin die senuwees reeds knaag. Want ek weet, op daai 50 km pad lê net vrae. En die eerste vraag kom sommer by die beginpunt: Hoekom? "Hoekom, hoekom, hoekom?"
Halfpad uit teen Duiwelspiek is jy nog in beheer en kan jy met breinspeletjies die vrae op 'n afstand hou en jouself oortuig "dat die berg my nie gaan breek nie." Droom voort.
As Duiwelspiek jou nie breek nie, sal Platteklip dit wél doen.
By Platteklip begin jy treë tel…een, twee, drie, rus, een, twee, drie, rus, slukkie water, een, twee, drie, rus.
Wanneer die krampe begin inskop en die tellery nie meer help nie, begin jy bid, dan skel en heelwat later kom die trane.
"Dalk moet ek net vir 'n tydjie onder hierdie bossie gaan lê... net 'n bietjie rus."
Bo vanaf Maclear's Beacon kyk jy na Leeukop. "Ek kan nie, ek kan wragtig nie nog daai stuk ook uitklim nie."
Liewe leser, dink tog aan my op 3 November.
Dink aan my as jy voor die braaivuur staan met 'n yskoue biertjie en wag om die vleis op die rooster te gooi.
Stuur mooi gedagtes hier na die berg toe.
Of beter nog stuur iemand met 'n bakkie om my langs die pad op te tel en volspoed teen Leeukop met my uit te ry.
Stuur jou kommentaar aan Klubhuis
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.