Daar sit hulle, agterop, en kyk agtertoe
2012-02-03 07:12
Oral in die land sien jy mense agterop bakkies.
Jy is op die snelweg naby die stad, dan is daar ’n ou Isuzu voor jou in die middelbaan, met drie manne agterop.
Oor een se ore is ’n Rasta-mus getrek. Die ander twee se blou oorpakke is vol verfspatsels. Dit lyk nie of hulle met mekaar gesels nie. Hulle sit met hul rûe teen die bakkie se kajuit en hulle kyk agtertoe.
Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heel dag lank gaan hulle verf of messel of kruiwa stoot en vanmiddag gaan hulle weer in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hierdie selfde snelweg ry, terug township toe.
Ander kere is daar meer as drie mense agterop die bakkie. Daar is vier of agt of sommer tien en dis meestal mans. Daar kan selfs ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak wees.
Soms moet party op die bak se rant sit, want ín die bak is nie genoeg plek om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas hul pette waai nie van hul koppe nie.
Partykeer sien jy ’n pet op die snelweg lê. Dit lê daar in die linkerbaan op die teer en die motors ry daaroor.
Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder voordat ’n volgende motor kom en dit weer plat trap.
Jy sal na daardie pet kyk en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was se kop gewaai.
Dalk was dit ’n jong man uit die Oos-Kaap se pet, sal jy vir jouself sê. Dit was sy eerste dag agterop ’n bakkie saam met ander werkers en toe hy weer sien, gryp die wind die pet van sy kop af.
Dalk sou hy vergeefs die wind in aan die bestuurder geskreeu het om stil te hou, terwyl die ander werkers vir hom lag.
Op die platteland sien jy ook soms ’n pet in die pad lê. Niemand hou graag stil vir ’n dêm werker wie se dêm pet afgewaai het nie.
Dit is ’n skildery wat nog nie geskilder is nie – die een van die werker agterop die boer se bakkie.
Die werker ry dikwels saam dorp toe om die hekke op pad oop te maak. Die hele oggend sit hy in die heklose dorp agterop die bakkie terwyl die boer by die bank en die Spar en die koöperasie is.
Partykeer sal die werker afklim en dan sal daar ’n repie koerantpapier en die oranje van ’n pakkie BB-twak in sy hand wees.
Die platteland is vol desperate mense agterop desperate bakkies. Die mans het dikwels nie oorpakke aan nie. Hul hemde fladder soos verslete vlae aan hul lywe in die wind.
Soms sal daar tussen die ander agterop die bakkie ’n vrou wees, met ’n doek om die kakebeen gebind, op pad na ’n kliniek waar die seer tand seer getrek sal word.
Soms sien jy oumas agterop bakkies, soms kinders, soms ma’s met babas in die arms.
Mense agterop bakkies kyk meestal agtertoe. Hulle kyk nie na waar hulle heen gaan nie. Hulle kyk na waar hulle vandaan kom.
Hulle kyk na jou.
- Oorspronklik verskyn in Beeld
Stuur jou kommentaar aan Dana
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.