’n Klein seuntjie en ’n ou koning
2009-11-05 09:11
My goeie vriend Jon Tilley het my op Oliver Tambo kom haal – ’n liefdesdaad, in ag genome die verbouery wat oral in Johannesburg aan die gang is.
Daarom kies Jon ook om nie met die deurpad stad toe te ry nie, maar neem my al met die agterstrate en voorstede langs: “Dan wys ek jou die huis waar ek grootgeword het...”
In die voorstad aangekom, sê hy: “Sien jy die dubbelverdiepinghuis reg oorkant ons? Die sjah van Persië het daar gewoon.”
(Reza Sjah Pahlavi was ’n geliefde regeerder, ’n hervormer wat die grondslag vir ’n moderne Persië gelê het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy egter geweier om die Duitsers in sy land te vervolg en in 1941 het ’n Anglo-Russiese mag die land binnegeval. Die sjah het geabdikeer en landuit gevlug. Suid-Afrika het aan hom asiel gebied.)
“En hier,” sê Jon, “drie huise verder, het ek gewoon.
En soggens, wanneer die sjah by sy huis uitkom om die lang straat af te stap vir sy oggendwandeling, het ek by ons hek uitgeglip en saam met die ou man straataf gestap.
Gepraat het ons nooit, maar wanneer ek weer by my hek indraai, het hy sy hand uitgesteek en my hare deurmekaar gemaak...”
Maar die storie eindig nie daar nie, sê Jon.
Baie jare later reis hy en sy vrou na New York en op die vliegtuig ontwikkel Sue ’n verskriklike, onhoudbare tandpyn.
In die groot stad aangekom, soek hulle onmiddellik ’n tandarts, maar word van bakboord na stuurboord gestuur.
Sommige hospitale het nie tandheelkundige geriewe nie, ander neem nie nuwe pasiënte op ’n Saterdag in nie.
Die tandartse wat wel beskikbaar is, is ewe onbehulpsaam: ’n Deposito van $200 sal ’n afspraak oor 14 dae verseker.
En Sue wil sterf van die pyn.
Plotseling, aan die straat, is daar ’n huis met ’n kartonkennisgewing in die venster wat ’n tandarts aankondig.
Dit lyk nie baie belowend nie, maar Sue is desperaat.
Toe hulle aanklop, maak die ontvangsdame oop, maar verklaar vies dat hulle toe is.
Dis Saterdag en sy is op pad huis toe. Maar die dokter is nog binne, as hulle met hom wil praat?.?.?.
Die tandarts luister na Jon se storie, sê-vra dan: “Julle is nie van hier nie, is julle?” Nee, sê Jon, hulle is Suid-Afrikaners.
En ek is ’n Irannees, sê die dokter.
Aan Suid-Afrikaners sal ek nooit hulp weier nie. Julle het my koning ingeneem toe hy uit sy eie land moes vort.
En hy neem Sue sagkens onder hande: neem x-strale en diagnoseer infeksie in die wortelkanaal.
Toe boor en behandel hy die geïnfekteerde tand.
Terwyl hulle op die tweede stel x-strale wag, vertel Jon hom van ’n klein seuntjie wat jare gelede saam met ’n ou man onder pers blomme by ’n straat afgestap het.
Die Irannees het trane in die oë toe hy die x-strale neersit.
“Jou vrou behoort nou sonder pyn te wees,” sê hy. En $50 behoort genoeg te wees om alles te dek.
- Oorspronklik verskyn in Beeld
Stuur jou kommentaar aan Cecile
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.