Waar daar ‘n rokie is...
2011-12-08 07:53
Dinge werk maar altyd so: Iets word ‘n modeneiging oorsee en voor ons ons kan kry, volg die res van die wêreld.
Skielik dra al wat vrou is daai baie verspotte Gladiator-stewels. Of mans sien op die tiewie hoe dit hoogmode is om stywe jeans te dra – en al wat man is volg dit slaafs na.
Maar dis nie net wanneer dit by modes kom wat ons steel nie. In musiek, sport – selfs wanneer dit kom by hoe om ‘n slaai te maak – gebeur daar altyd iets “groot en belangrik” in die ryk lande en dan skrik ons ‘n paar jaar later hier in SA wakker.
Wat my 'n bietjie laat stres.
Want in London is daar nou die een of ander wet bekragtig wat motoriste verbied om 'n dampie te maak wanneer hulle in hul motors is. Hulle sê dis glo om ongelukke te voorkom, want rokers word deur hul rook afgelei en kan dus makliker ‘n ongeluk veroorsaak.
Snert.
En ek is seker een of ander anti-rook-vereniging gaan kyk dat dit hier ingestel word, dalk in 2018.
Nee. Ek gaan vandag my voet neersit. Maar nié my sigaret nie.
Rook kry áltyd die skuld. Vir alles. Ons trek altyd aan die kortste ent van die stompie.
As jy met ‘n gebreekte pinkie dokter toe gaan ná jy jou vinger in die kar se deur toegeklap het, sal die dokter se eerste vraag wees of jy gerook het toe jy die deur toegeklap het. As jy jou spertyd by die werk mis, sal jou baas oor sy bril vir jou loer en sê dis omdat jy te veel rook.
Waar daar ‘n vuurtjie is, word rokers blameer.
En dan word ons ook net nóóit meer in vrede gelos om ons ding te doen nie. Selfs die blote idéé van nikotien tussen jou lippe, en jy word berispe. Soos in ‘n supermark of in die bank (wtf), of, my gunsteling, die biblioteek. (Come to think of it, ‘n sigaret sál nogals lekker met ‘n boeklees afgaan).
Dan word ons permanent uit die samelewing “buitentoe” gedryf. Soos honde wat nie in die huis mag wees wanneer daar mense kuier nie. Ons word summier in die wind en reën gelos, asof dít nie ‘n vorm van diskriminasie is nie.
Hoeveel keer het jy nie al by ‘n partytjie opgedaag waar jy soort van vrede maak met die feit dat jy heelaand sal móét buite staan nie? En dan is daar nie eens 'n asbak nie! (Dan sal die nie-rokende huiseienaar nog opdaag en vir ‘n sigaret vra wanneer sy dronk raak.)
Die punt is: Niemand neem óns ooit in ag nie. Ons moet net altyd die nie-rokers in ag neem.
Buitendien, as ek nie in my motor sal kan rook nie, gaan dít die heeltyd in my kop dwaal en is ek meer geneig om nie my volle aandag op die pad te gee nie. Of ek sal vinniger ry om by die huis te kom.
Om ‘n restaurant met ‘n rook-afdeling te kry is amper so taboe soos om jou eie lighter vir ‘n week te hou sonder dat jy dit verloor. Dit gebeur net nie.
Restaurante kan 'n mens seker nog begryp (ek is self nie ‘n fan van rook met my kos nie), maar wanneer ek in ‘n koffiewinkel sit en klets ís daar eenvoudig niks beter as die koffie-sigaret-kombinasie nie.
Een van die dae het ek nie eens meer daardie vryheid in my eie motor nie.
So wat dink jy gaan ek dán doen?
– Carryn-Ann Nel is 'n verslaggewer vir Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan Carryn-Ann
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.