Om ‘n gemerkte vrou te wees
2011-10-13 07:19
Ek het altyd mense met tatoeëermerke veroordeel.
Wanneer ek iemand met een of ander arend op sy skouer of 'n tribal sign op sy arm gesien het, het ek altyd gedink: God gaan jou straf wanneer jy eendag in die hemel kom (dis nou as jy dit tot op daardie punt maak, wat ek in elk geval betwyfel).
Tatoeëermerke is net so onnodig. Dis net daar vir die show. Om te bewys dat jy pyn kan verduur. Maar ‘n mens se liggaam is mos nie ‘n canvas nie?
Ek gril altyd so ‘n bietjie wanneer ek mense sien wie se hele been of arm swart en rooi van die ink is – om nie eens te praat van die mode-neiging onder sporthelde nie.
Dit noop my altyd om die vraag te vra: But why? Jy hoef jou nie te beseer om uit te staan nie.
Ja. Julle weet wat volg: Toe kry ek een.
Sommer so 'n impulsiewe kom-ek-doen-iets-exciting-vir-2007-oefening waaraan ek myself blootgestel het. Net om te bewys: Ek kan ook.
My merk? ‘n Strepieskode met my geboortedatum. Waar, vra jy? Sommer daar onder my nek.
Ek onthou die dag vaagweg. Dit was vroeg in Januarie 2007 en dit was vakansie. Ek en Sus was iewers op ‘n road trip in die Oos-Kaap, waar ons dié dag olifante gesien het.
Op pad terug na ons hotel toe, het ek net gevoel dis tyd. My ma-hulle sit doer in die Kaap en sal in elk geval niks daaraan kan doen nie.
My kredietkaart moes die onkoste dek – want ek het mos nie vir die blou ink op my lyf begroot nie!
My kunstenaar was nie eens 'n rowwe man in ‘n leerbaadjie met gesigte van duiwels oor sy liggaam verewig nie. Nee, ek het ‘n 24-jarige blou-oog blondine-meisie gehad met “slegs” een tatoe op haar maag. (Ek het daarop aangedring om dit te sien.)
Die pyn was erg. Mense jok vir jou wanneer hulle sê dis nie so erg nie. Ek het my suster se hand vasgehou soos ‘n vrou wat in kraam is. Boonop moes ek stilsit, anders het my reguit lyne soos zig-zag-strepies gelyk, wat nie eintlik die plan was nie.
Terwyl ek daar gesit het, het ek ‘n paar keer gewonder of ek nie gék is om dié vrou te vertrou wat my permanent gaan merk (iets wat saam met my tot die dood gaan) omdat ek niks van agter kon sien nie.
Dit was so ‘n halfuur later klaar. Rooi van die swel, en glad nie so sexy soos wat ek gedink het dit sou lyk nie. Dit het selfs gebloei, en die ou in Mr. Price agter my het heeltemal uitgefreak van die bebloede strepieskode onder dié girl se nek. Shame. Arme ding.
Toe begin die opmerkings: “Hoeveel kos jy?” En. “Kan ek jou scan?”
En selfs meer angswekkend: “Jy het die merk van die dier.”
(Nee, ek het nie daaraan gedink nie. En ja, dit gebeur steeds.)
Ek’s nie spyt nie. Mense kan dit sien wanneer ek so voel. En daar sal altyd ‘n cute ou wees wat navrae daaroor doen.
Oor die hemel toe gaan-storie, weet ek egter nie meer nie.
Gaan ons nie almal uiteindelik die merk van die dier kry nie?
Ek’s julle seker maar net een voor.
– Carryn-Ann Nel is 'n verslaggewer vir Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan Carryn-Ann
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.