Almal is soms maar broke
2011-10-27 07:32
Ek het gedink dit sal nooit met my gebeur nie.
Dié soort dinge gebeur mos net met ander mense. Maar toe sien ek die skermpie voor my en die teller wat my met wenkbroue in die lig dophou.
“Insufficient funds.”
Ek het vir seker tien sekondes net daar gestaan.
Heeltemal daarvan bewus dat ek nié enige kontant op my het nie.
Die teef agter die toonbank, met haar ge-chipte naels en al, se geduld het toe al opgeraak en dis asof haar gesig vir my gesê: Tegnologie vertel nie leuens nie.
Ek het oor my woorde geval; iets gemompel.
“Moet ek die kledingstuk maar afhaal?” het sy gedurf vra, en vir ‘n oomblik kon ek glo dat daar ‘n glimlag om haar mondhoeke gevorm het.
Soos ‘n engel het my vriendin (daar’s ‘n rede waarom vroue nooit alleen shop nie) tot my redding gekom, anders kon ek nie vir my pa daardie vadersdaggeskenk koop nie. (Hoekom moet dit elke jaar altyd so verdomp in die middel van die maand gebeur.)
“Toemaar,” het my vriendin my getroos. “Dit kan met enigiemand gebeur.”
Ja-nee. Om broke te wees, glo ek gebeur met almal.
Ons almal gaan deur stadiums in die maand wanneer ons twee keer dink voordat ons ons sente vermors. Ek glo vas in die volgende stelling: Jy spandeer (of verloor) die meeste van jou hardverdiende loon die eerste vyf dae ná betaaldag. Dis wanneer jy uit jou bankrekening onttrek sonder om nog na die strokie te kyk. Jy wéét mos jy’t geld.
Dan die laaste week vóór betaaldag vra jy hardop in die kantoor wanneer dit dan weer die 25ste is. Elke laaste muntstuk in jou beursie is goud werd.
Jy koop pakkies 10-sigarette (hel, selfs ‘n pakkie Princeton as dit moet) en drink Black Label. By die huis is Two Minute Noodles en swart koffie jou naam. Jy kyk in jou kamer rond na items wat jy moontlik sal kan verkoop by Cash Crusaders.
Jy stap maar werk toe want petrol is duur. Die een geleentheid wat jy moet ry, gooi jy net R20 se spoeg in jou kar in.
Tog het ek al geleer daar is één plek waar mense wat nie geld het, gewoonlik daarmee kán wegkom: Die restaurant.
Gebeur dit ook nie soms met jou nie? Jy eet uit met jou vriende, die aand gaan goed, en teen die einde van die aand, wanneer dit by betaaltyd kom, haal almal hul beursies uit en maak woes sommetjies op hul BlackBerrys, maar die rekening is kort. En dan is die waiter nog nie eens getip nie.
Jy kyk jou vriende so skepties aan en probeer dink wie die skuldige een is wat weer nie sy volle bedrag gegee het nie.
Maar daardie persoon is altyd missing soos ‘n R100-noot in jou beursie op die 24ste.
Dit. Pis. My. Af.
En dan moet arme Jan-Jan altyd inchip, sonder om dit ooit weer terug te kry.
Dis nie so moeilik nie, mense.
Soos eerlikheid met jou Sars-inskrywings begin, moet jou eerlikheid ook hier tel. Betaal jou volle rekening en gee 10%. Dis dit. Ons álmal suffer nog van die resessie. Geld is min, maar eerlikheid hoef nie te wees nie.
En hoewel ek vermoed dat mense gewoonlik dink dat “iemand” meer gaan gee as wat hy moet, gebeur selfs dít ook net soms.
Ja. Ook dít gebeur nie met enigiemand nie.
– Carryn-Ann Nel is 'n verslaggewer vir Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan Carryn-Ann
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.