Kersfees kom ook weer...
2011-09-29 08:51
Jy is nie al een wat so voel nie. Dit is September en jy bid net vir so ‘n week kans om weg te breek.
Jy voel dis tyd om vinnig asem te skep, verkieslik iewers langs ‘n strand met sagte golwe wat in jou ore suis en ‘n skemerkelkie wat so bleddie koud in jou hand raak, dat jy maar jou glas moet neersit.
Die realiteit tref jou kliphard wanneer jy deur ‘n koerant blaai en ‘n vet man op ‘n adevertensieblad sien. Huh? Kersvader? Kan dit wees?
Dit was dan nie so lank terug toe die huis vol mense was wat geglo het dat hulle jou móét soengroet nie. En jy betaal dan nou nog af aan die budget-opsie wat jy op jou kredietkaart gekies het om verlede jaar se Kersfeesgeskenke af te betaal...
Maar nou ja. Dis seker nie meer so lank voor ons weer die lang rye sien nie en kinders in winkels weer in trane begin uitbars vir dáái speelding.
Ek is nie anti-Kersfees nie. Inteendeel, dit is vir my as Christen een van die mooiste en belangrikste vieringe. En die baie kos wat ek met gemak – en in ‘n sweetpakbroek – kan vreet, bied ook hope plesier.
Die magic van Kersfees verdwyn egter vinnig wanneer ons te doen kry met een instelling waarvan geeneen van ons wegkom nie: Die winkelsentrum.
Ek het nog nooit van winkeslentrums gehou nie, verál nie op ‘n Saterdagoggend nie. Daar’s te veel mense, die rye is lank en jy koop altyd iets wat jy nie werklik nodig het nie.
‘n Winkelsentrum in Kerstyd is egter die hoofrede waarom ek dié plekke verpes.
Kom ons begin by die begin: Kinders. Om een of ander rede voel dit vir my asof kinders elke jaar Kersfees eien. Hulle voel dit behoort aan hulle en hulle alleen. Hulle vat oor in die winkels en voel hulle is geregtig om ‘n keel in elke gang (selfs die hondekos-isle) op te sit.
Hulle stoot selfs hul waentjies teen my hakskene en lag vir hulleself as ek hulle Die Kyk gee.
Ek het al geleer dat dit nie eens help dat jy hulle met daai dreigende frons aankyk nie (of hulle knyp en dan vinnig wegloop nie), want dan sit hulle hul ma op jou. En teen ‘n ma wat in elk geval haar kind se kant gaan kies, gaan ek nie wen nie.
Die lang rye: Daar’s oral lang rye. In die parkeerterrein, by die betaalpunte, badkamers, restaurante. Jy moet oral wag. Ek het al gewonder waarom winkelsentrums nie reg deur die jaar so lyk nie, maar kon nooit aan ‘n rasionele antwoord dink nie. Dis asof die mense wat ondergronds woon ook besluit hulle gaan nou Krismispies en Krismiscrackers kom koop.
Op daardie noot, die mense wat ánder mense raakloop: Ek het eenkeer nog vinnig agter ‘n tannie gestap, toe ek myself amper disnis geval het nadat Tannie besef het sy verby haar Boekklub-vriendin, “wat sy laaaaanklaas gesien het”, geloop. Die twee maats het ook sommer besluit om nét daar voor my op te catch.
Jy is (babbelas) en platsak, kom 3 Januarie: Ek kry klokslag elke jaar op 20 Desember my bonus. Teen Oujaarsaand het ek net genoeg geld oor vir my drank en dan lewe ek op genade en ‘n ouer suster met ‘n dikker beursie.
Boney M en Mariah Carey: Ja, ek gee toe ek hou van Boney M, maar verkieslik nét op Kersdag. Dit gee my geen joy om op 12 November “Joy to the world” in Foschini se aanpaskamers te sing nie.
Kersfees is lekker, maar ek’s bly dit kom net een keer ‘n jaar. Een Kind is genoeg vir my.
– Carryn-Ann Nel is 'n verslaggewer vir Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan Carryn-Ann
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.