Dié opoffering is moeite werd
2012-02-09 07:00
Nege maande... Mense het begin praat toe my liggaam skielik begin verander het.
Ek was nog nooit skaam en stil nie, maar wel selektief met wat ek sê, en vir wie. Mense skinder mos maar soms, en vorm hul eie stories. Vra my, ek’s 'n joernalis.
Laat ek van voor af begin: Ek het nege maande gelede by die gim aangesluit. Vandag sit ek in hierdie stoel en tik... 38 kilo’s ligter. Dis omtrent die gewig van ‘n graad 4-kind. Of ‘n hele Backstreet Boy.
‘n Glimlag het sommer nou om my mondhoeke gevorm, omdat ek dit steeds nie kan glo nie. Ja, ek het gewig verloor. Ek hét dit gedoen!
Ek was nie wat jy ‘n emosionele eter sal noem nie. Ek is net vrek lief vir kos. Ek hou van kou. Hel, soms hou ek net van daai crunch-geluid terwyl ek Niknaks eet. En ongelukkig is ek een van daai mense wat nie sommer ‘n smaaklike ete misloop nie, of dit nou vetmaakkos is of nie.
Dêmmit. Kos. Is. Vir. My. Lekker.
Ek sou nooit twee keer gedink het om vir daai ware tweede bordjie te gaan nie. Slaai by my kos was nooit ‘n opsie nie, net iets wat maer mense hul bordjies mee vol maak. As die trollie op die vloer kom stop, het ek al drukkies van die trollie-ou gekry.
En toe. Toe sien ek in die herfs van 2011 ‘n foto van myself iewers langs ‘n kampvuur. Dis nie dat ek myself ooit oortuig het dat ek maer was nie, maar daardie dag het ek net my vetrolle in die foto gesien, en gedink, só kan dit nie aangaan nie.
Ek het nie probleme gehad met hoe ek lyk nie. Jy beginne aanvaar mos jou “foute” soos die jare aanstap. Jy wéét jou neus gaan so bly, jou hare sal jy moet m*er om mooi te lyk, en jou maag sal jy altyd moet intrek vir foto’s.
Jy deal met jou gewig en jy gaan aan.
Maar dís waar die verskil vir my ingekom het. My gewig wás eintlik in my beheer. Dit was iets wat ek, en ek alleen, beheer het, en nie iets wat ek voor die Liewe Vader se deur kon los nie. Change was up to me.
Op 4 Mei 2011 – skuus, ek’s baie sentimenteel – het ek Zone Fitness toestemming gegee om elke maand vir die volgende jaar R200 van my geld te eien.
Dit was moeilik. Dit is stééds moeilik en verg harde werk – fisiek en emosioneel. Niemand het ooit gesê dit sal maklik wees om soggens vóór werk op te staan om te gaan sweet nie. Niemand het ooit gesê dit sal maklik wees om ‘n Gatsby van Golden Dish vaarwel te roep nie.
Maar ek moes die vet om my eie oë afhaal en daardie besluit neem en daarby bly.
Om gewig te verloor leer jou selfdissipline, om vir versoeking nee te sê, en ook om vas te byt. Jy weet dit gaan nie môre of oormôre gebeur nie, maar jy hou vas aan die hoop dat dit “eendag” sal gebeur. Jy moet net geduldig wees. Dis net jy en jou eie wilskrag. En jou ma se gesonde kos (as jy so gelukkig is soos ek).
Vandag besef ek dat daardie opofferings die moeite werd was. Hel, ek het ‘n nuwe foto by my rubriek!
Ja, ek knyp myself nog van tyd tot tyd. En daar’s nou veel minder om aan te knyp.
– Carryn-Ann Nel is 'n verslaggewer vir Die Burger.
Stuur jou kommentaar aan Carryn-Ann
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.