Weg, soos tieners in die mis ...
2011-04-14 07:10
Die noodsaaklikheid van ’n GPS-toestel in alle omstandighede kon ek nog nooit lekker kleinkry nie. Behalwe miskien in die oerwoud van Jozi of in die ooptes van die Kaudom in Namibië waar die spreekwoordelike boom by die vurk in die sandpad waar jy moet regs draai, omgewaai het.
Tog was daar die afgelope naweek ’n smagting na so ’n toestel. Met ’n klein verskil. Pleks van ’n globale posisioneringstelsel sou ek ’n TPS wou hê: Tienerposisioneringstelsel. Dié toestel moet genoeg geheue hê om ’n bykomende program te laai genaamd TMA – tienermaniere-aanwending.
Jy’t gedink ’n kinderpartytjie met 15 jillende vyfjariges is erg? Kinderspeletjies. Ek sal dit enige dag weer doen, al is ’n skeelhoofpyn ingesluit by die pakket. Want vier dae ná ’n vuurdoop met sowat 15 tieners op my huisdrumpel klop my hart steeds in my keel op die ritme van die onluisterbare musiek – iets wat wragtig as ’n martelmetode erken kan word.
Om toestemming tot ’n tienerpartytjie te gee, moet ’n mens eers ’n paar begrippe herdefinieer. Soos die huis waarin jy bly, is inderdaad jóú huis. Glo onwrikbaar daarin, al word die sitkamerbanke en die musiekstelsel en wat nog als rondgeskuiwe asof die hele spul grade het in ergonomiese binneontwerp. Jy sal egter genoop word tot oorgawe rakende die inhoud van die koelkas; dit is vanselfsprekend allemansgoed. Vir vat sonder vra.
Daarmee in gedagte is dit dalk ’n blink plan indien die TPS se TMA uitgereik word met ’n tazer-agtige tentakel. Dié kan gebruik word om onbekende tienergaste wat woordeloos by jou verbyskuifel in jou eie huis se smal gang te prikkel tot groetwoorde.
Sommer net ’n doodgewone, eenvoudige sin soos: “Hallo, mevrou, ek is Sussa Blinkbroek. Baie dankie dat ons hier kan kuier.”
Daarmee sal ’n mens die aksie vermy om agter die sluipende wesens met lang kuiwe te drafstap, hulle op die skouer te tik en tussen knerstande te sis: “Goeiemiddag. Ek is die tannie aan wie die huis behoort. Baie welkom. Wat sê jy is jou naampie?” (Terwyl jy dit verpes om “tannie” genoem te word deur nie-familielede.)
Deur die aand sal van jou verwag word om wag te staan. Dis waarom die TPS uiters nuttig te pas sal kom: Probeer nou so ’n lotjie op die huisstoep hou terwyl die ganse bergdorp wag om oorwin te word. Tel jy koppe, is daar kort-kort twee of vier of meer skoonveld. Jou bloeddruk styg per sekonde en jou handpalms sweet. Aan die gruwels wat eie en andermanskinders kan oorkom of wat hulle kan pleeg, wil jy liefs nie dink nie. Solank jou gebede ’seblieftog deur die klankgolwe kan breek en die Liewe Vader nie “beskerm” met “bedwelm” verwar nie.
Teen 22:00 draai jy die geraas sagter en tel leë sider-botteltjies onder die wipmat op. Teen 00:00 skakel jy die musiek gans af en luister na die eienaardige lingo waarmee gekommunikeer word. Jy tel koppe en verduidelik aan die seun wat met sy pa se 4x4-bakkie opgedaag het hy gaan beslis nie nou berg-af ry in die dik mis nie. Deur die nag staan jy male sonder tal op om seker te maak die oorslapers hou by die reël van seuns in die sitkamer en meisies doeriekant.
Jy verlang met ’n diep gemis na die nagte toe jy moes opstaan om te borsvoed.
Eindelik is dit dagbreek en jy klater vensters oop en verklaar die paartie is verby. Tatta, totsiens en toedeldoe.
Dit was ’n nuwe roete waarop ek my begeef het. As daar maar hoegenaamd ’n GPS-TPS kon wees met ’n blikstem wat beveel doen dit, sê dat, kyk uit vir só.
Sou ek my hande op een kon lê, sou ek dit met graagte gee aan die handvol ongenooide kinders se ouers. Sodat hulle hul kinders kan opspoor in die wilde woesteny van ’n soms skrikwekkende tienerlandskap.
Dan moet hulle maar liewers onder mý dak verdwaal.
- Oorspronklik verskyn in Beeld
Stuur jou kommentaar aan Annemarie
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.