‘n Wonderlike apologie
2012-09-03 07:42
Ek had ‘n droom.
Nie Martin Luther King Jr. s’n nie, eerder Johnny Clegg s’n.
Ek had ‘n Afrika-droom.
Ek het die toekoms in gereis. ‘n Paar jaar ten minste. Definitief meer as ‘n dekade. Dit kan selfs meer as sewentig jaar wees. Skielik staan ek in die middel van ‘n skare. Oral om my is jongmense. Tussen die vriendelike skares sien ek die regop pale van ons nasionale sport. Ek is in ‘n rugbystadion. Dit moet Ellispark wees, dink ek by myself.
My gedagtes dwaal. Ek wonder of hierdie bastion van Suid-Afrikaanse rugby nog aan die Goue Leeus-rugbyunie behoort. Bestaan die Goue Leeus-rugbyunie nog? Ek soek vir simbole wat hulle bestaan verklap.
Nog voor my gedagtes kan verval in die nostalgie van ‘n Joel Stransky-skepskop, Joost se plettervat op Jonah “ek-het-nooit-‘n-drie-teen-die-Bokke-gedruk-nie” Lomu en Mandela in ‘n Springboktrui breek daar ‘n oorverdowende dreuning oor die stadion. Ek soek die vliegtuig bo in die lug, maar sien niks nie.
Toe ek weer afkyk sien ek vir die eerste keer die verhoog in die middel van die veld. Iemand is besig om die klank te toets. Die verhoog lyk soos “The Claw” – daardie indrukwekkende viervoetige struktuur wat hulle vir die U2 360°-konserte staan gemaak het. Nou raak dit interessant. Ek het hoeka die U2-konsert in Kaapstad-stadion misgeloop.
Skielik is daar ‘n groot gejuig. Die vuvuzelas trompetter. ‘n Jong man verskyn op die verhoog, ook bebril, maar definitief nie Bono nie. Hy is ‘n swartman met ‘n effense ligter vel. Dit maak sin – Bono is teen hierdie tyd al lankal by die plek waar daar geen straatname is nie. Die jong swartman stap tot by die mikrofoon. Voor hy by die mikrofoon aankom, haal hy sy bril af. Hy begin praat. Hy praat meestal Engels, maar slaan van tyd tot tyd oor na Xhosa en Zulu. Ek kan hoor dis mooi woorde, gelaai met sjarme, maar ook met deernis. Tog registreer my brein nie die betekenis van die jong swartman se woorde nie.
My gedagtes dwaal weer. Wat is hierdie? Hoekom bevind ek my hier? Ek probeer sin maak van die gebeure. Skielik vang my blik ‘n bekende afkorting. ANCYL. Wat? Is ek by ‘n ANC-jeugliga byeenkoms. Ek sou dit nooit kon droom nie – ag, ek bedoel... ek is nie ‘n ANC-jeugliga-mens nie.
Dan moet die man wat praat seker die Jeugliga-president wees? ‘n Futuristiese Malema. So asof die jong vrou langs my my gedagtes kan lees, vertel sy ongevraagd dat die man aan die woord die nuwe president van die ANC-jeugliga is. Glo ‘n afstammeling van die oorle medestigter van die ANC-jeugliga, Walter Sisulu, en is self ook ‘n Sisulu. Dit verduidelik die ligter velkleur. Walter Sisulu het ‘n blanke pa gehad.
Net soos die idee dat ek by ‘n ANC-jeugliga-byeenkoms ingesink het, begin my brein die woorde van die jong swartman registreer. Hy begin Afrikaans praat. Nou raak ek verward. Ek voel soos Sweet Coetzee in Sweet and Short toe hy vir Riaan Cruywagen die nuus in Xhosa hoor lees. Die swartman sê herhaaldelik die Afrikaanse woord “jammer”. Waaroor sê die mannetjie, amper sê ek snuiter, dan nou jammer?
Dan hoor ek duidelik. “Ons wil jammer sê oor die ANC-jeugliga se deelname aan rassisme in die verlede. Ons was in die verlede aanhitsers van rassegeweld en vervolgens verantwoordelik vir diepliggende sielsletsels wat steeds voortleef in die geheue en stories van ons wonderlike land se mense.”
Die regisseur van my droom laat Sisulu weer stil raak, sodat ek net met my eie gedagtes gelaat word.
Ek wou so graag verder luister. Gaan Sisulu omverskoning vra vir “Skiet die Boer”, Malema se manewales en mense wat moontlik gesterf het as gevolg van die aanhitsing?
Ten spyte van die onbeantwoorde vrae, moet ek erken: dit was ‘n wonderlike apologie.
My Afrika-droom eindig. Ek skrik wakker. Dit is nog donker, maar aan die anderkant van Stellenboschberg begin die son al die horison inkleur.
Die dagbreek kom hoopvol nader.
– Amo is ‘n vryskutskrywer en studenteleraar by Shofar in Stellenbosch. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Amo
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.