Soos ‘n tsoenami oor my verskrikte hart
2012-09-18 08:30
Die prentjie van ‘n weerlose vet-bedekte lyfie wat styf en so natuurlik teen my vrou se bors lê is ingeëts in my geheue.
Ek onthou nog hoe liefde soos ‘n tsoenami oor my verskrikte hart gestroom het, golf op golf – die een sterker as die vorige een. Dit is my kind. Dit is my kind. Dit is my kind, het my hart hakkelend aan my brein gekommunikeer. Die tsoenami het ook my oë bereik – ek het gehuil.
Die beelde en skril gille van pyn en lyding van ‘n paar minute vantevore was heeltemal uitgewis. Niks kon my aandag weglei van die rooilip-dogtertjie wat so vreedsaam op my vrou se bors lê nie. Ook vir my vrou het die seer verdwyn. Die anderkant van die pyn het te ryklik beloon – ‘n dogtertjie, óns dogtertjie.
By vaderskap (moederskap) word iets van ons menslikheid aangeskakel – ons weerloosheid.
Daar is iets in die liefde wat in jou gebore word met daardie eerste skree van jou kind wat die broosheid van ons menslike bestaan blootlê. Eers is dit ‘n gevoel van ontsettende trots wat ontplof in jou vaderhart en dan sulke interessante toertjies in jou maag doen. Ek het deel gehad aan die skepping van dié kind, my kind. Elke DNS-deeltjie van hierdie baba dra my naam.
Maar dan volg die Dean Greyling-oomblik, wat jou ongevraagd aan die anderkant van jou euforiese gemaal kom platduik. Hierdie dogtertjie is gebore in ‘n stukkende wêreld.
Daar voor jou lê ‘n bondeltjie mens wat nie gekies het om in die wêreld te wees nie, maar nou gebore is in ‘n wêreld waar ongeregtigheid uittroon bo geregtigheid. ‘n Wêreld waar verkragting ‘n groter sekerheid as geletterdheid is. ‘n Wêreld waar elke goeie pa sy dogter moet waarsku teen omies wat onder die rokkie wil peuter. Bewaar daardie man se siel (en van sy ander liggaamsdele ook)!
Die baba wat die nare wêreld moet trotseer is ook nie ‘n arbitrêre kind nie, dit is mý kind. Dit is die besitlike voornaamwoord wat die weerloosheid soos ‘n groot geboortemerk ontbloot. Dit wat ouers broos maak is die liefdesband wat tussen ouer en kind ontstaan – ‘n eienaardige band as ons na die empiriese invloed daarvan kyk.
Daardie bloedjie wat daar op my vrou se bors lê en sukkel om haar ogies deur die vet te laat breek kan in die eng sin van die woord geen “bydrae” tot my lewensgeluk lewer nie. Sy kan nie kos maak nie, sy kan nie my rug krap nie, sy kan nie agter my skoonmaak nie en gaan ook nie vir my sê waar my beursie en my selfoon is wanneer ek haastig op pad uit is nie.
Inteendeel – sy neem van jou lewensgeluk weg. Ek kan minder of geen fietsparte op Ebay koop nie, want doeke en NAN-melk is duur. Jou nagrus word versteur deur skreegeluide of ‘n elmboog in die rib wat jou beurt om op te staan aandui. En wanneer die tande kom word die elmboog in die rib opgevolg met huwelik-onderonsies sonder enige takt.
Maar ek sal dit enige tyd weer doen. Ek sal ‘n Heyneke Meyer op myself trek en weer vir Morné Steyn kies, want my hart is verbind aan die een wat ek “my kind” noem. Ek sal huil as sy seerkry en skree as ongeregtigheid haar besoek, maar vir “my kind” is weerloosheid of enige vorm van lyding geen opoffering nie.
Liefde maak die nare wêreld stil en die mens menslik.
Nou gaan ek my rekenaar afsit, gaan inkruip langs my vroutjie en weer my daaglikse gebed bid. Here, gee my ‘n goeie nagrus, Of maak ten minste net haar elmboog stomp.
Amen.
– Amo is ‘n vryskutskrywer en studenteleraar by Shofar in Stellenbosch. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Amo
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.