Oomblik van waarheid vir Lance
2012-11-01 07:15
“Armstrong” is al ‘n geruime tyd in die volksmond. Ek onthou hoe ek ’n weddenskap met my skoonsus aangegaan het oor wie die eerste man op die maan was. Die opsies was Louis en Neil.
Sy het aangevoer dat dit Louis was. Dit was natuurlik Neil en so het ek met die McDonalds Big Mac, die prys waarop ek gewoonlik gewed het, weggestap.
Louis was natuurlik die Jazz-musikant wat met sy rasperstem oor ons wonderlike wêreld gesing het. “Hello Dolly” lui dalk ‘n klokkie. Hy was ook ‘n groot voorstaander van ‘n diëetplan wat die gereelde gebruik van lakseermiddels ingesluit het.
Lance was nie ‘n opsie in ons weddenskap nie, want almal weet mos wie hy is. Hy is die man van die geel bandjies wat kanker oorwin het, sewe keer die Tour de France gewen het en eens op 'n tyd met Sheryl Crow uitgegaan het.
Almal weet wie hy is. Hy is ‘n legende. ‘n Persoonlike held. Die Tiger Woods, Roger Federer en Michael Schumacher van fietsry. ‘n Voorbeeld van dit waartoe ‘n mens in staat is – ‘n supermens.
Maar in dieselfde maand wat Neil dood is, roep Lance ook ‘n einde aan die geveg teen die fietsry-owerhede – die twee gebeure was ongemaklik na aan mekaar. Hy doen dit wat hy nog nooit kon doen nie – nie teen kanker nie en ook nie teen Jan Ulrich nie. Hy gee op. Hy gee op om met die geveg vir sy onskuld. Waarom?
Want miskien is onskuld nie iets wat jy kan wen nie, maar iets wat jy moet wees.
In ‘n verslag wat die Amerikaanse agentskap teen verbode middels (USADA) op 10 Oktober uitgereik het, skryf hulle dat daar “oortuigende en onmiskenbare” bewyse is dat Lance Armstrong se US Postal Service-span ‘n “hoogs professionele en gesofistikeerde” opkikkerprogram in plek gehad het.
Daardie selfde verslag maak dit ook duidelik dat Lance, anders as sy voormalige spanmaats, die geleentheid om sy foute te erken, geweier het.
Al wil die wêreld nog vasklou aan hulle held en lansies breek vir sy onoorwinbaarheid, is dit duidelik dat hy met opgerolde moue en die duidelik sigbare letsels van vuilspel uitgevang is.
Jy het nie nodig om te veel pitte tussen die ore te hê nie om te besef dat daar groot ongeruimdhede was in die Armstrong-era. In 2011 het die gevreesde Alpe d’Heuz ‘n wentyd van 41:25 opgelewer. In 2001 sou daardie tyd jou 40ste laat eindig het.
Tyler Hamilton maak in sy boek The Secret Race baie van Lance en sy spanmaats se “hoogs professionele en gesofistikeerde” truuks bekend. Daar was kodewoorde en -name, geheimsinnige dokters en geheimsinnige kontakte binne die UCI-leierskap. Hulle sou glo bloed in oortapsakkies in die hondehok van ‘n hond genaamd Poulidor versteek om dit veilig verby beheerpunte op die Tour de France te kry. By ander tye het Lance ‘n motorfietsryer gehuur om botteltjies EPO by kritieke punte op die toer af te lewer.
Hamilton beskryf in detail die hartseer verhaal van internasionale fietsry sedert die negentigerjare. Die gebruik van opkikkers en bloedoortappings om rooibloedselle te vermeerder het nie in afsonderlike gevalle plaasgevind nie, maar was so deel van fietsry soos twee wiele en ‘n raam. Daar was geen kans vir ‘n fietsryer om met die louere weg te stap as hy paniagua gery het nie. (Paniagua is die term wat gebruik is wanneer ryers sonder enige verbode hulp gery het; dit is ‘n samevoeging van die Spaanse woorde vir “brood” en “water”).
Die speelveld was dus gelyk en daarom sal 'n mens die aanname kan maak dat Lance steeds die beste was en die nodige eer daarvoor moet kry. Dit sal kortsigtig wees om by hierdie slotsom te volstaan.
Lance is nie net ‘n fietsryer nie, maar ook ‘n mens. As fietsryer het hy gewen – sewe keer na mekaar. Maar as mens het hy saam met sy tydgenote liederlik gefaal. Niemand kan dit ooit goed praat nie – dit sal altyd ‘n klad op ons samelewing wees.
As sportman is die prys alles. As mens is die manier waarop daardie prys verdien word egter net so belangrik, of selfs belangriker. Selfs Bonny Tyler het daardie verband getrek toe sy eers vra “Where have all the good men gone?” voordat sy verklaar “I need a hero!”. Nóg Tiger, nóg Hansie, nóg Lance het Bonny Tyler geluister.
Lance, jy was ‘n goeie fietsryer – die beste. Wys jou nou ook jou menslikheid. Die waarheid sal jou vry maak.
– Amo is ‘n vryskutskrywer en studenteleraar by Shofar in Stellenbosch. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Amo
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.