'n Marshmallow op jou troukoek
2012-08-06 07:48
“Ek is ‘n maag(d),” word in groot vet letters op Wikus Vaalseun Kruger se bleek maag geskryf. Almal lag!
Wikus trou binnekort met sy universiteitsliefde, maar eers moet hy die nodige man-word rituele ondergaan – uitgedink deur ons, sy lojale vriende. Paintball-gewere word onder sy oë uitgehaal en gelaai, hy word geblinddoek en met 'n valhelm gekroon. Hy word in die middel staangemaak, afwagtend op die eerste skoot. Maar dit is ‘n bluf. Die ware ammunisie is eiers, ses dosyn van hulle.
Ons het geredeneer dat aangesien nie een van ons al getroud is nie, ons sondes ons moontlik in die vorm van ‘n bitter Wikus by ons eie rampartytjie kan besoek, en daarom is ‘n onredelike paintball-skietery afgeskaal na ‘n eiergooiery. Eiers sal nie so seer maak soos die paintball-balletjies nie, het ons geglo.
Die teendeel was waar. Paintball-balletjies word vervaardig om met die oomblik van impak mee te gee en sodoende die impak sagter te maak. Moeder hoender is egter geen ballistiese deskundige nie en haar eiers geen marshmallows nie. Die impak was groot, hard en seer. Wikus was tough op daardie somersaand in Stellenbosch.
Twee weke later staan Wikus weer tussen ons, hierdie keer uitgevat in ‘n donkerbruin pak. Hy trou. As jy mooi loer kan jy die nagevolge van daardie onheilsame aand op Stellenbosch sien – ‘n effense hink na links elke keer as hy sy regterbeen neersit. Buiten dié herinnering was dit ‘n mooi affêre – ‘n heilige oomblik.
Wikus was ‘n maagd. Sy verloofde ook. Hulle het uitgehou. Hulle was tough. Hulle het die “onmoontlike” vermag.
In ‘n tyd waar “onmoontlik” al hoe verder uitgeskuif word uit ons woordeboeke, is dit interessant dat een ding steeds onmoontlik en selfs verfoeilik bly – om jou maagdelikheid te spaar vir daardie een spesiale persoon.
Die €7,5 miljard Groot Hadronversneller (LHC) het ‘n deeltjie wat ooreenstem met die “God-deeltjie”, oftewel die Higgs Boson, ontdek. Michael Phelps wen 22 Olimpiese medaljes. Anthony Flew raak ‘n theist. Amerika kry ‘n swart president. Die Curriebeker staan in Ellis Park se glaskas.
“Onmoontlik” word daagliks deur vasberadenheid, dissipline, toewyding en samewerking uit hoofstukke van die wetenskap, sport, tegnologie en menslike bestaan geskrap.
Tog is hierdie eienskappe totaal afwesig wanneer daar oor seks gepraat word. Ons samelewing is gedryf tot ‘n Freudiaanse ekstase waar instinkte en emosie seëvier oor die rede, logika en plein common sense.
Ek was daar. As universiteitstudent was ek vasgevang in my eie hedonistiese kokon van laataand-e.tv en pornografie op die internet. Dit was ‘n rit op ‘n rondomtalie wat my in ‘n dwaal gelaat het. Alles het gedraai rondom my eie begeertes en soeke na die bevrediging daarvan. Ek het geen verhouding met die vrou op die skerm gehad nie. Ek het geneem en niks gegee nie – is dit tog nie die toonbeeld van onvolwassenheid nie?
‘n Hele paar gebede en hope selfbeheersing later kan ek sê dat ek hierdie wellustige brak hier binne my in toom het. So af en toe hoor ek hom blaf, maar dan herinner ek hom aan sy tjank en sê “voertsek, jou vuil hond!”.
Nee, ek sê nie natuurlike seksuele drange is vuil nie. As getroude man weet ek dat dit ‘n kardinale deel van ‘n gesonde huwelik is. Maar dit kan ‘n vuil hond raak wanneer jy sonder selfbeheersing obsessief die bevrediging van daardie drange najaag.
Walter Mischel het in 1971 ‘n paar 4- tot 6-jarige kinders bymekaar gekry en hulle laat deelneem aan die eksperiment wat vandag as die Marshmallow-toets bekendstaan. Een vir een is hulle vir vyftien minute in ‘n kamer alleen gelaat. Een marshmallow is op ‘n tafel voor hulle geplaas met die opdrag dat as hulle hulself kan weerhou om die marshmallow te eet totdat daar weer ‘n volwassene die kamer binnekom, hulle twee sal ontvang. Opvolgstudies het later getoon dat die kinders wat hul begeerte vir die marshmallow in toom kon hou, aansienlik beter in sekere ontwikkelingsgebiede gevaar het as die ander.
‘n Marsmallow toets ons selfbeheersing, dit is vir seker. Ons seksuele drange doen dit egter meer. Weerstaan jy hierdie marsmallow, dan is jou beloning groot. Meer as die persoonlike beloning is egter die invloed wat dit kan hê op ons mense.
Ek kom gereeld in aanraking met studente wat blootgestel was aan marshmallow-eters – baie keer het hulle net so lekker saam geëet. ‘n Student wie se drankie gedokter is en dan later wakker raak in ‘n vreemdeling se bed. Die boeremeisie wat swanger gemaak is deur haar huisdans-date. Die ou wat verslaaf is aan pornografie en seksuele ervarings sedert hy as jong seun deur sy oom gemolesteer is. En daar is vele meer.
Dit maak my hartseer.
Afrika se mense word afgemaai. En die grootste sondebok is nie Gaddafi, Amin, Mugabe, Assad, Mubarak of selfs Koni nie, maar die vigs-epidemie – veroorsaak deur ‘n seksuele oordraagbare virus wat floreer in seksueel immorele gemeenskappe.
Dit maak my baie hartseer.
“Almal maak voute (sic)”, sing Bouwer Bosch. Die meeste van ons was iewers al skuldig aan Marsmallow-eet. Kom ons maak reg en beweeg aan met die voorneme om soos ons Olimpiese roeispan sterk te eindig.
Kom ons leer ons kinders dat selfbeheersing nodig is en dat jou maagdelikheid ‘n spesiale geskenk is wat jy aan een spesiale persoon op ‘n spesiale dag kan gee nie – en mag ek voorstel dat daardie dag jou troudag is?
Hoe klink ‘n marshmallow op ‘n troukoek?
– Amo is ‘n vryskutskrywer en studenteleraar by Shofar in Stellenbosch. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Amo
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.