Dit was lekker, maar dis nou verby
2013-01-14 07:45
Dit is al 19:00.
Met die stuur van die laaste e-pos breek die vakansie aan. Die out office assistant word gestel met woorde wat dit laat klink of jou vakansie welverdiend is en eufemisties word daar uitgespel dat jy asseblief nie gepla moet word nie.
As daar wel iets dringend gebeur is daar tog ‘n generiese e-posadres waarna ‘n desperate siel ‘n e-pos kan stuur. Terug by die huis konfronteer jy die oproerige atmosfeer met, “ek moes net gou ‘n paar goed klaar maak voor die vakansie.”
Daar word vroeg opgestaan want dan is daar min verkeer en nog minder radar-gewapende bloubaadjies. Die kar word gepak. Die bagasie weerspieël jou goeie voornemens, twee fietse, tien boeke en ‘n Kindle, en twee pare draftekkies.
Baba is teen hierdie tyd wakker en nukkerig. Bettiesbaai is nie te ver nie, maar met die enetjie se sondige natuur wat in half gevormde kermklanke deur haar rooilippies beur kan dit ‘n ewigheid raak.
Ons roete neem ons verby die tweede winderigste plek in die wêreld. So het my oupa Gordonsbaai gedoop, “want”, het hy gesê, “die winderigste plek het reeds weggewaai.” Ons roete kronkel langs die Kogelberg, verby die wapperende haai-vlag, verby Rooi-Els tot by die derde winderigste plek in die wêreld, Bettiesbaai.
Die toeter word gepomp en ons ry sommer reg om die huis tot agter teenaan die Franse drein – wat die Franse darem nie al vir die wêreld gegee het nie. Oupa en ouma, dit is hoe hul nou bekendstaan nadat kleinkind gebore is, ontvang ons, die reisigers, met groot fanfare terwyl hul snaakse babataal-klanke uiter. Ek en vroulief word vinnig gegroet, maar dit is duidelik waar die aandag lê.
See toe gaan. Buite stort. Board games. Lees. Geselsies oor die nuutste gadget-aankope, Ramaphosa en die onderwys. Fyn brag oor prestasies behaal of wysheid bekom in die kalenderjaar.
Kreef duik. Braai. Eet. Familie skinder. Lae-desibel onderonsies tussen huweliksmaats. Kroos-wedywering. Bier by die vuur. Harold Porter-uitstappies.
Totsiens, Oupa en Ouma.
Die kar word weer gepak en ons durf die Suid-Oos reg van voor aan. Ons skiet Suid-Kaap toe. Ander Oupa en Ouma wag by die Buffelsjag-vulstasie. Die karavaankonvooi is op pad Kleinbrak toe.
Weereens word daar met oortuiging vakansie gehou. See toe gaan. Eet. Board games en die hele spul elemente van ‘n suksesvolle vakansie wat ek bo genoem het.
Kersfees arriveer in die vorm van ‘n sweterige Kersvader op ‘n jeep. Hy betower grootmense, deel persente uit en word met vreesbevange kleuters toegegooi. So geheimsinnig soos hy gekom het word hy aan die einde van sy ekshibisie van gekunstelde Westerse tradisie gechaffeur na die kampbestuurder se motorhuis net om die draai.
Jesus kom darem ook in die prentjie in. Gewoonlik in ‘n krip of soos by ons karavaan-laer op ‘n bordjie – “Jesus se verjaarsdag!” Geestelike gesprekke word gevoer, oor demone, kerke, maar ook oor die impak van hierdie Jesus in mense se lewens. ‘n Oom drink nie meer nie.
‘n Ander tannie dobbel nie meer nie en nog ‘n ander oom het sy vrou meer lief. Soos my ongenuanseerde vriend van die Vrystaat hom eens uitgelaat het: “Vader Kersfees is dood, maar Jesus leef”.
Na Kersfees is die vakansie op ‘n afdraande pad.
Terwyl die mae nog Stille Nag neurie na Kersfees se owerdaad word daar beplan aan die laaste feesgeleentheid van die Desember-vakansie: Nuwejaar.
Nuwejaar is altyd maar ‘n bittersoet pil, omdat die nuwe jaar ook herinner aan die vakansie wat op sy einde is en die verantwoordelikheid wat vir sy eienaar wag. Dus ook seker die rede hoekom soveel mense die nuwe jaar diep in die bottel begin.
Die karavaanpark raak leeg. Daar word opgepak en ook ons vat die lang pad terug. Verby Albertinia se twee Aalwyn-fabrieke. Stop by Heidelberg se Wimpy. Ouma speel op die klimrame met die bordjie “geen kinders bo 12 jaar”.
Verby Swellendam en via Worcester terug tot in Stellenbosch.
Dit was lekker, maar nou is dit eers klaar.
– Amo is ‘n vryskutskrywer en studenteleraar by Shofar in Stellenbosch. Jy kan hom hier volg op Twitter.
Stuur jou kommentaar aan Amo
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.