'n Filmfees van branderplankry
2010-12-06 15:11
Kaapstad - Die sewende jaarlikse Wavescape-filmfees van branderplankry het onlangs in Clifton afgeskop en sal tot middel Desember nog mense vermaak.
Die fees word aangebied deur die Save Our Seas-stigting en duur tot 19 Desember.
Branderplankry-entoesiaste kan tot môre (7 Desember) by Depasco Cafe bymekaarkom om na 12 branderplanke te kyk wat deur kunstenaars geverf is. Hierdie borde sal opgeveil word en die opbrengste sal aan stigtings soos die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en Shark Spotters geskenk word.
Die rolprent-gedeelte van die fees begin Vrydag (10 Desember), waartydens die film Scratching the Surface op Clifton se vierde strand vertoon gaan word. Dit begin net nadat die son sak.
Daar word egter duisende mense verwag wat van vroegmiddag al hul piekniekmandjies strand toe gaan bring om uit te span.
Binnenshuise films gaan by die Brass Bell in Kalkbaai vertoon word tussen 12 en 15 Desember, asook by die Labia bioskoop in Oranjestraat vanaf die 16de tot die 19de. Toegangsfooi is R30.
Vir meer besonderhede skakel 079 0260 669 of besoek Wavescape se webblad.
- Volg Nuus24 op Twitter. Kliek hier.