Zim: Olifante bedreig deur onwettige grondbesetters
2011-09-02 09:17
Harare – Sowat 70 olifante in ‘n wildreservaat in die suid-ooste van Zimbabwe word bedreig deur ‘n nuwe vlaag van onwettige grondbesetting, het ‘n bewaringsgroep Donderdag gesê.
Olifante in die Chiredzi-rivier-bewaargebied het nêrens anders om heen te gaan nie, het Johnny Rodrigues, die voorsitter van die Zimbabwiese Bewaringstaakmag (ZCTF), gesê.
“In die laaste week was daar ‘n nuwe vlaag van mense wat bome afkap, wildstropery en die verwoesting van ‘n reeds beskadigde omgewing,” het hy gesê.
Rodrigues het gesê dat dié bewaringsgebied 11 jaar gelede vir die eerste keer binnegeval is aan die begin van pres. Robert Mugabe se chaotiese grondhervormingsprogram.
Die ontwikkelaars en die olifante het tot dusver dit reggekry om naas mekaar te bestaan, maar die olifante word nou aangeval, verjaag en gejag deur die nuwe setlaars, het Rodrigues gesê.
Van die olifantkalfies het vermis geraak terwyl ten minste twee jong olifante doodgemaak en onthoof is, het hy gesê.
Talle diere in Zimbabwe se private wildplase word deur wildstropers gepla sedert die instelling van die grondhervormingsprogram.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA