Ysbeer doodgeskiet ná hy toeris bestorm
2011-07-08 15:42
Churchill – Natuurbewaringsbeamptes in die noordooste van Manitoba, Kanada, is gedwing om ‘n ysbeer dood te skiet nadat die dier agter ‘n toeris aangehardloop en ‘n bakkie bestorm het.
Laura Gray-Ellis het vertel hoe sy by die gesondheidsentrum in Churchill was toe sy ‘n toeris op die strand gesien het wat slegs drie meter van die beer staan en foto’s neem.
“Ek het my doodgeskrik,” het Gry-Ellis Donderdag gesê.
“Hy was tussen die beer en die water.”
Sy het vertel hoe sy gesien het hoe die man weghardloop, met die beer wat agter hom aan hardloop.
Beamptes het kort daarna opgedaag en die ysbeer met ‘n klapper te skiet om hom af te skrik.
Die beer het daarna in die dorp in gehardloop.
Die beer het van tuin na tuin gehardloop en het ‘n hek gebreek,” het die 24-jarige verpleegster gesê.
“Die bere is nie gewoonlik so nie.”
Beamptes is gevolglik gedwing om die aggressiewe beer dood te skiet nadat dit ook op hulle bakkie afgestorm het.
Churchill is die ysbeer-hoofstad van die wêreld en bere word gereeld hierdie tyd van die jaar gesien.
– Toronto Sun
– Volg Nuus24 op Twitter