Waterblommetjiefees in die Boland
2011-09-06 16:55
Waterblommetjies is eie aan die Wes-Kaap en binnekort is dit weer tyd om Waterblommetjiefees te vier.
Dié fees is drie jaar gelede deur Windmeuel Kelder in die Agter-Paarl begin en brei hierdie jaar uit na nog ‘n kelder in die gebied, Rhebokskloof Wynlandgoed.
By die fees word die klem geplaas op hierdie unieke kossoort. Top-sjefs sal potjieskosdisse en ander geregte met waterblommetjies voorberei wat saam met die perfekte wyn-pasmaats bedien sal word.
Die fees val ook saam met die tweejaar-viering van die maandelikse Windmeul Plaasmark en Rhebokskloof sal spesiale aanbiedinge van kos, wyn en musiek hê.
Die Waterblommetjiefees begin op 1 Oktober om 08:00 by Windmeul tot ongeveer 13:00 met die Wynmaker Waterblommetjie Potjiekoskompetisie.
Gesoute koskenners is op die paneel van beoordelaars wat sal besluit watter wynmaker se potjie is die wenner.
Die tweede deel van die fees vind vanaf 13:00 op Rhebokskloof plaas waar gesoute kookkunstenaars uit die omgewing verskillende waterblommetjie-geregte vir die wynmakers van Windmeul en Rhebokskloof, onderskeidelik Francois van Niekerk en Rolani Lotz, sal berei.
Hulle sal gevolglik eksperimenteer met die regte wyn-pasmaats vir die verskillende geregte.
Natuurlik sal wyn- en kosliefhebbers ook daaraan kan smul.
En wat is ‘n fees met lekker kos en wyn sonder goeie musiek?
Kunstenaars soos Andries Vermeulen, Sarah Theron, Pietman Geldenhuys en Ollie Viljoen sal daar wees om feesgangers te vermaak.

Francois van Niekerk (wynmaker van Windmeul) en Rolani Lotz (wynmaker van Rhebokskloof) bevind hulself diep in die waterblommetjiedam tussen Paarl en Wellington. Die Waterblommetjiefees word vanjaar op 1 Oktober by Windmeul en Rhebokskloof aangebied, ter viering van hierdie inheemse groenteblom en die gepaste wyne as smaakmaats. Foto: Nicola Bester.
Die volledige program:
Windmeul
08:00 - 13:00: Plaasmark
08:00 - 13:30: Wynmaker Waterblommetjie Potjiekoskompetisie
12:00: Beesloop
Wyn en geregte te koop. Lewendige musiek en kontantkroeg. Kindervermaak.
Rhebokskloof
11:00 – 15:00: Vierwielmotorfiets (quad bike). Kindervermaak.
12:00 – 15:00: Waterblommetjie kookkuns en wynmakers se wyn-en-kos pasmaats. Kos en wyn te koop.
13:00 – 13:45 en 15:00 - 16 :00: Musiek deur Andries Vermeulen, Sarah Theron, Pietman Geldenhuys en Ollie Viljoen.
– Nuus24
– Volg Nuus24 op Twitter