Vyfster-syfers laat hotelle eindelik glimlag
2012-02-15 09:03
Johannesburg. – Dit lyk asof die Suid-Afrikaanse hotelbedryf uiteindelik besig is om sy Wêreldbeker-babelas af te skud.
Syfers toon ’n welkome verandering in ’n bedryf wat die afgelope ses maande grootliks deur markkommentators afgeskryf is.
Joop Demes, uitvoerende hoof van Pam Golding Hospitality (PGH), sê met die nuutste syfers begin dit lyk asof die ooraanbod van hotelkamers wat in die aanloop tot die Wêreldbekersokkertoernooi geskep is, stadig maar seker deur ’n toename in die vraag opgeruim word.
Volgens ’n navorsingsverslag wat PwC verlede jaar uitgereik het, het 9 700 nuwe hotelkamers tussen 2008 en 2010 op die mark gekom.
Demes sê dit help dat tariewe heelwat laer is as die skrikwekkend hoë tariewe in Junie en Julie 2010.
In Julie 2010 was die gemiddelde tarief R2 670 per kamer per nag in ’n vyfsterhotel in Kaapstad. In November verlede jaar, een van die beste maande in die seisoen, is tariewe van gemiddeld R1 680 per kamer per nag behaal, wat dit R990 of 37% goedkoper gemaak het, sê hy.
Nog faktore wat positief was vir die Suid-Afrikaanse hotelbedryf, sluit in nuwe regstreekse vlugte na Kaapstad vanuit die buiteland, die onrus in die Midde-Ooste en ’n beter wisselkoers vir buitelandse besoekers. Hy reken dit het tot ’n dramatiese ommekeer in die Kaapse vyfsterhotelmark bygedra, veral in die laaste drie maande van verlede jaar.
Volgens die Smith Travel Research (STR) Global Hotel Benchmark-verslag vir Desember was die gemiddelde besettingsyfer in Kaapstad 66,4% vir die drie maande tot Desember. Dit is ’n styging van 18,1% teenoor die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar.
Demes sê verlede maand was ook ’n lonende maand vir die groot handelsname in die Kaapse vyfsterbedryf, met gunstige toenames in die gemiddelde inkomste per beskikbare kamer (revPAR) teenoor die vorige Januarie. “Die Mount Nelson-hotel se revPAR was in Januarie ’n fenomenale 49,5% hoër as in Januarie verlede jaar.”
Hy verwag dat die revPAR-groei vir die Kaapse-hotelmark meer as 20% sal beloop vergeleke met Januarie verlede jaar.
Die vooruitsigte vir Februarie tot April lyk uiters positief vir die Kaapse vyfstermark. “Die Cape Grace is op koers om sy beste maand nóg in Februarie te behaal en die Mount Nelson het 17% meer sake op sy boeke vir die res van die jaar as verlede jaar.”
In die res van die land se hotelmarkte het dit ook beter gegaan en die totale besettingskoers vir alle hotelle was in Desember 58,3%, teenoor 52,3% die vorige Desember.
Hy sê veral die syfers vir Durban en omgewing was bemoedigend. Die besettingskoers het in Desember tot 86,5% geklim van 81,1% die vorige Desember.
In die Oos-Kaap het die besettingskoers van 63,5% tot 65,3% toegeneem en in Sandton en omgewing van 39,7% tot 46,7%.
Gerald Nelson, uitvoerende hoof van die genoteerde Hospitality Property Fund, sê te midde van ’n onseker omgewing is dit moeilik om te sê wat die vooruitsigte vir die hotelsektor is.
Hy sê dié fonds, wat eksklusief in hotel- en gasvryheidseiendomme belê, het teen einde verlede jaar ’n verbetering ervaar in die besettingsyfers en gevolglik ’n toename in die gemiddelde inkomste per beskikbare kamer (revPAR). Ook verlede maand se syfers het belowend gelyk.
Die fonds is in ’n geslote tydperk en sal na verwagting sy resultate vir die ses maande tot einde Desember op 22 Februarie bekend maak.
Onder Hospitality se hotelbates tel die vyfster-Westin Grand Hotel in Kaapstad en die Arabella Hotel & Spa naby Hermanus.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld