Vyf beseer by Disneyland Parys
2011-04-26 10:39
Parys – Disneyland Parys het sy “Thunder Mountain”-pretrit Maandag gesluit nadat ‘n dekorstuk op een van die karretjies geval en vyf mense beseer het, het ‘n staatsamptenaar aan Reuters gesê.
Een van die mense het ernstige beserings opgedoen.
“’n Stuk van die versierings wat uit veselglas en hout gemaak is het afgebreek en op een van die karretjies geval. Daar was 25 mense aan boord,” het Thuerry Bonnet, adjunk-hoof van die Seine-et-Marne-streek waar die park geleë is, gesê.
Die rit is gesluit, maar die res van die park het oopgebly ná die ongeluk, het hy bygevoeg.
‘n Woordvoerder vir die park se operateur, Euro Disney, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Disneyland Parys was in 2009 Frankryk se top-aantreklikheid en het volgens die nasionale buro vir statistiek (INSEE) 15,4 miljoen besoekers gelok.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters