Vrae oor lys wat sê Kaap is gevaarlikste
2012-01-18 08:00
Johannesburg – ’n Vraagteken hang oor die geloofwaardigheid en waarde van ’n Mexikaanse organisasie se verslag wat beweer Kaapstad is die gewelddadigste stad in Afrika, het ’n kenner Dinsdag gesê.
Volgens dr. Johan Burger, senior navorser oor misdaad en die reg aan die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), is dit onseker waar die organisasie sy syfers kry.
“Wêreldwyd verskil die definisie van misdade en inligtingstelsels.”
Die organisasie Seguridad, Justicia y Paz (Veiligheid, Geregtigheid en Vrede) grond sy lys van die gevaarlikste stede ter wêreld op ’n moordsyfer per 100 000 van die bevolking.
Daarvolgens is Kaapstad in die 34ste plek, die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (wat Port Elizabeth bedien) 41ste, Durban 49ste en Johannesburg 50ste.
Mosoel in Irak is in die 44ste plek.
Volgens Burger is dit onvanpas om moord as ’n aanduider van misdaad te gebruik.
“Meer as 80% van moorde vind plaas in armer gemeenskappe tussen mense wat mekaar ken.”
Dié moorde het meer te doen met sosiaal- ekonomiese omstandighede, het Burger gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA