Volg vriende se raad op vakansie
2011-10-19 13:15
Kaapstad – ‘n Nuwe selfoonprogram help reisigers om hul vakansie te beplan met behulp van hul vriende en familie.
Die program, genaamd Trippy, verbind die gebruiker met vriende in sy sosiale netwerke wat inligting het oor ‘n spesifieke stad en wat moontlike aanbevelings kan maak.
“Ons is nou in ‘n tyd waar minder, meer is. As jy inligting oor Tokio wil hê is daar duisende verskillende webwerwe wat elkeen duisende verskillende idees en voorstelle gee,” het J.R. Johnson, stigter en uitvoerende hoof van Trippy, gesê.
“Jy het nodig dat jou vriende, wat jou die beste ken, jou help om te besluit waar jy jou tyd moet deurbring.”
Die program is gebaseer op die idee dat vriende weet waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie, en dat hulle jou omstandighede ken.
Dit stel gebruikers ook in staat om hul reisplan, gekombineer met vriende se wenke vir elke bestemming, deur te gaan terwyl hulle reis.
Gebruikers kan ook ‘n reisalbum saamstel en foto’s direk vanaf die plekke wat deur vriende aanbeveel is met hulle deel.
Hotelle kan ook direk deur die Trippy-webwerf bespreek word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters