Vlugkelner sit kind in bagasie-stoorplek
2011-03-07 13:52
Sydney – Virgin Blue het ‘n manlike vlugkelner afgedank en bied nou gratis vlugte aan ‘n ma nadat sy “verpletter” is toe haar kleuter in ‘n oorhoofse bagasie-stoorplek geplaas is.
Natalie Williamson was op ‘n Virgin-vlug van Fidji na Sydney onderweg toe sy beweer die vlugkelner het haar 17-maand oue seun, Riley, opgetel en in die stoorplek geplaas, waarna hy dit toegemaak het, het Australië se Herald Sun berig.
Virgin het erken dat die voorval plaasgevind het.
Die lugredery beweer dat Williamson se man, wat nou van haar vervreem is, ‘n kiekeboe speletjie (peek-a-boo) met Riley gespeel het en dat die vlugkelner begin saamspeel het.
“Ons het ‘n deeglike ondersoek geloods en die vlugkelner is afgedank,” het ‘n woordvoerder van Virgin aan die koerant gesê.
“Ek het daar gestaan en mense het gelag. Toe sê ek, ‘Kry my seun nou daar uit,’” het sy aan die Herald Sun gesê.
Volgens Williamson was haar seun vir tot 10 sekondes in algehele donkerte toegesluit.
Sy beweer dat Riley, wat nou 20 maande oud is, verskeie spesialiste gesien het sedert die voorval en dat hy angsbevange raak en aan onttrekking ly.
Kliek hier om meer te lees.
Volg Nuus24 op Twitter