Vliegtuig kry ’n spoggerige snor vir kankerveldtog
2010-11-19 14:00
Die Burger
Kaapstad – Suid-Afrikaners moenie te veel wonder as hulle ’n vliegtuig met ’n massiewe snor aan sy voorpunt gewaar nie.
Die lugdiens Kulula het vanjaar besluit om sy steun aan die internasionale Movember-veldtog te gee en een van sy vliegtuie met ’n snor versier.
Movember is ’n internasionale veldtog wat sewe jaar gelede in Australië begin is. Dit moedig mans aan om in die maand November ’n snor te groei in ’n poging om bewustheid oor prostaat- en testikulêre kanker te bevorder.
“Dit is belangrik dat die boodskap versprei word dat kanker by mans so vroeg as moontlik opgespoor word,” het me. Nadine Damen, bemarkingsbestuurder van Kulula, gesê.
“Ons hou daarvan om vreemde en andersoortige bemarkingstrategieë te volg en die idee van ’n snor op een van die vliegtuie het vinnig aanklank gevind,” het sy bygevoeg.
Die snorvliegtuig is ook vol snaakse slagspreuke geverf.
Luidens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se webblad kan Suid-Afrikaners by die 250 000 internasionale Movember-aanhangers aansluit.
Belangstellendes kan by www.movember.com registreer en ’n donasievorm aflaai om geld in te samel.
In 2009 is R240 000 ingesamel, wat aan Kansa se gesondheidsprogram vir mans geskenk is.
- Die Burger