Vliegtuig draai terug oor verdagte koeldrankblikkie
2012-05-23 19:01
Sydney – Nooddienswerkers het Woensdag na die Melbourne Lughawe gehaas nadat ‘n passasiersvliegtuig gedwing is om terug te keer na die lughawe nadat ‘n koeldrankblikke met die woord “bom” daarop aan boord gevind is, het die polisie gesê.
Die Australiese polisie is uitgestuur en minstens 15 brandweervoertuie was op bystand toe die Air Mauritius Airbus A340, met byna 200 mense aan boord, by ‘n geïsoleerde deel van die lughawe geland het.
Die vliegtuig, wat na Mauritius op pad was, het Melbourne op die geskeduleerde tyd verlaat, maar die kaptein is sowat ‘n uur later in kennis gestel dat ‘n verdagte item gevind is.
“Die item was ‘n koeldrankblikkie met die woord ‘bom’ wat daarop geskryf was,” het die polisie in Victoria in ‘n verklaring gesê.
“Die vliegtuig het teruggekeer na Melbourne en het veilig geland... met alle relevante agentskappe wat uitgeroep is.”
Die polisie sê geen dreigemente is ontvang in verband met die voorwerp nie en hulle probeer nog vasstel wie dit eerste raakgesien en hoe dit aan boord gekom het.
Die vliegtuig, wat meer as 180 passasiers en nege bemanningslede aan boord gehad het, word deur die bomeenheid ondersoek en alle bagasie sal ook geskandeer word, het die polisie bygevoeg.
Niemand is in hegtenis geneem nie en geen vlugte is ontwrig by Melbourne Lughawe nie.
Air Mauritius het gesê die kaptein het besluit om terug te keer na Melbourne “nadat ‘n verdagte item aan boord gevind is”.
“Air Mauritius wil beklemtoon dat die veiligheid van passasiers en bemanningslede te alle tye sy grootse prioriteit is,” het die lugredery in ‘n verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP