Vet Piet onthou as Kalahari-professor
2012-01-25 09:05
Ons het op ’n keer met my viertrekbakkie op ’n sandpad in die Kalahari gery. ’n Gemaklike snelheid van 30 km/h is gehandhaaf.
“Swartwolf,” sê Vet Piet, wat langs my sit. Hy het beduie na die spore in die rooi Kalaharisand wat teen dié snelheid onder die bakkie verdwyn.
Ons het gestop en uitgeklim. Daar lê die spore. Hoe weet ek dis ’n swartwolf (of bruinhiëna, die meer konvensionele naam)?
“Kyk, sy agtervoet is baie kleiner as die voorvoet. En hy het baie hare op sy voete. Kyk hoe sit die hare tussen sy vingers.”
Hierdie was die fyn besonderhede waarmee ’n mens die verskil tussen ’n bruinhiëna en ’n gevlekte hiëna kon sien. Vet Piet het tussen die twee spore onderskei terwyl hulle teen 30 km/h onder die bakkie deur geflits het.
Só was Vet Piet se vaardigheid. Ek onthou dat ons eendag langs so ’n tweespoorpad in die Kalahari gery het. Vet Piet het my gevra om te stop.
Langs die bakkie het die spore van ’n leeumannetjie gelê. “Kyk, hy draf nou,” het Vet Piet gewys.
Toe begin hy met ’n verduideliking van die verskillende redes hoekom ’n leeumannetjie sommer sal begin draf. Die waarskynlikste rede onder daardie omstandighede, het hy gedink, was dat ander leeus ’n vangs gemaak het en dat hy nader draf om in die fees te deel.
Raai wat kry ons toe 2 km verder? ’n Trop leeus op die vars karkas van ’n eland.
Vet Piet het sy merkwaardige kennis met graagte gedeel. Dit was omvattend en het die hele spektrum van die ekostelsel gedek.
Oor die weer sou hy byvoorbeeld sê: “As die sterretjies hulle se ogies so knip, dan kom die koue uit die suide uit.”
Die koggelmanders wat so op die punte van die driedoring se takke gedrapeer lê, was weer ’n duidelike teken van reën wat op pad is.
Of dit was die gedrag van springbokke ná die winter. Hy het met smaak vertel hoe die dragtige springbokooitjies aan die driedoring se blommetjies en peultjies vreet en hoedat dit hulle melkproduksie stimuleer op ’n tyd wat die veld nog arm is aan kos, voor die eerste reëns.
Hy het oneindige plesier daaruit geput om te wys hoe die spoorvatterjie ’n skerpioen uit sy gat jaag. Die spoorvattertjie is ’n grondkewer met ’n ordentlike stel kake. As hy by ’n gat kom wat deur ’n skerpioen gegrawe is, kies hy onmiddellik koers in die gat in.
Binne minute kom ’n verontwaardigde skerpioen uitgekruip, sy stert penorent. Minute later verskyn die spoorvattertjie weer en stap nonchalant voor die skerpioen se neus verby.
Sy veldetiek was merkwaardig, gegewe sy lewensgeskiedenis. Ons het een aand by ’n kampeerplek langs Lang Rambukapan gesit, toe ’n groot tampan by ’n tafelpoot opklim. Verontwaardig wou een van die mense hom vermorsel, maar Vet Piet het gekeer. “Nee, los hom. Dis sy plek dié,” het hy gesê.
Vet Piet was by uitstek ’n spoorsnyer en een van die eerstes in Suid-Afrika wat deur Louis Liebenberg as Meesterspoorsnyer gekroon is.
Meesterspoorsnyers is die professore van spoorsny, is Louis se standpunt. Van die grootste plesier wat mense uit Vet Piet se teenwoordigheid geput het, was die verstommende wyse waarop hy ’n stuk Kalaharisand lewendig kon maak met sy spoorinterpretasie.
’n Paar gate in die sand kry lewe as Vet Piet wys hoedat die leeuwyfie probeer het om ’n haas te vang en op een plek selfs bo-oor ’n bos gespring het om die vreesbevange hasie aan te keer.
Soos iemand eendag gesê het ná ’n vroegoggend-stappie op die duine: “Dis soos om die koerant te lees. Al die nuus van die nag lê in die sand.”
– Vet Piet was ’n veldwagter in die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park.
Hy het sy hele lewe in die park gewoon.
Onder die mentorskap van legendariese Boesman-spoorsnyers soos Agarob en Regopstaan het hy gedy en ’n meesterlike natuurmens, veldwagter en spoorsnyer geword.
Op 27 Maart 2004 is hy tragies in ’n motorongeluk oorlede.
– Johan Fourie het 20 jaar lank by Sanparke gewerk en was ’n kollega van Vet Piet. Hy is ’n skrywer, en sy boek Stryd in die Bos is oor renosterstropery.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger