Vervoerstelsel in Londen vlieg in die salf vir Spele
2011-10-03 15:23
Londen – Met slegs 10 maande voor die Olimpiese Spele spook owerhede in Londen om dié stad se verouderde vervoerstelsel op te gradeer.
Die Spele se begroting vir vervoer spreek boekdele oor die grootte van die taak – dit is £6.5 miljard (R69,7 miljard) in vergelyking met die Splele se begroting van sowat £9.3 miljard (R99,8 miljard) wat vervoer uitsluit.
Met ‘n ou, kreunende ondergrondse treinstelsel en oorvol paaie het Londen al van die begin af ‘n moeilike taak om die verwagte agt miljoen besoekers in Julie en Augustus te vervoer.
Volgens Graham Stephens, koördinasie-bestuurder van die Transport for London-beheerliggaam, is vervoer al sedert die stad vir die Spele gekies is as ‘n potensiële probleem aangedui.
“Die eerste adviseurs (tydens die aanbod vir die Spele) het ons baie gehelp toe hulle al aan die begin van die proses uitgewys het dat vervoer ‘n groot kwessie is,” het hy gesê tydens ‘n toer van die vervoer-fasiliteite wat vir die media georganiseer is.
“Te danke aan die Spele is die reuse-begroting nou verseker,” het hy gesê.
“Op die ou einde sal daar ‘n legende wees,” het Stephens gesê.
“Alle vervoer in Londen sal weer versterk en opgeknap wees.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP