Verrassing-stap aan my hart se kant
2011-06-07 10:47
Ons was ’n groep van 14 stappers en het verstom by Hobas gestaan – die uitkykpunt oor die beginpunt van die staproete deur die Visrivier-canyon.
Die rivier doer onder het afgekom, en ons kon die versnellings hoor van bo waar ons gestaan en afkyk het.
Frik Olwage van Africa Eco Ventures, die leier van ons groep, het daarna uitgesien om die roete die 45ste keer te stap – sover hy weet, is dit ’n rekord.
Die KwaZulu-Nataller Patti Miller (60) se droom sou bewaarheid word omdat Ian, haar man, die staptog as geskenk vir haar 60ste verjaarsdag gereël het.
Wilna Boonzaaier (64) se lewensdroom was ook op die punt om uiteindelik waar te word.
Maar skielik was almal se drome aan skerwe. Die werklikheid het stadig ingesink, en ons moes Hobas druipstert verlaat om na die grenspos by Noordoewer terug te keer.
Ons het egter almal nog vyf dae tot ons beskikking gehad, met ’n rugsak en genoeg kos. Niemand was eintlik lus om na die alledaagse terug te keer nie.
Frik het toe voorgestel dat ons Boesmanland in Pella se omgewing gaan verken. Die Oranjerivier het steeds sterk gevloei, maar ons het vinnig planne vir ons nuwe ekspedisie begin maak.
Met nuwe opgewondenheid vir die onbekende het ons na Klein Pella aan die oewer van die Oranjerivier vertrek. Met 17 000 dadelbome is Klein Pella die grootste dadelplaas in die Suidelike Halfrond.
Ons het in die kampeerterrein gaan slaap.
Die warm storte in die aand was ’n luukse waarvoor ons nie beplan het nie.
Van Klein Pella het ons begin stap by die dadelplantasies verby en deur wingerde om aan te sluit by ’n 4x4-roete wat al langs die Oranjerivier kronkel.
Ná 25 km was ons by Pella se Orange River Resort, en die vriendelike Abraham Afrikaner was daar om ons te verwelkom.
Die oord was silwerskoon, en weer het ons warm storte gehad – iets waarna jy op die canyon-staproete sou kon smag.
Ons het onder die sterrehemel geslaap met ’n maan wat net al hoe voller geword het. Die visarende het geroep oor die druisende Oranjerivier, en die bobbejane was net raserig aan die Namibiese kant.
Hierna het ons die roete deur Charlie se Pas en deur droë rivierlope na Pella gestap. Dit is die roete wat deur die drie Franse priesters gebruik is om kleistene van die rivier met ossewaens aan te ry na waar die historiese katedraal van Pella vandag staan.
Die priesters het gebou met net ’n ensiklopedie as handleiding.
Met ons aankoms by Pella se katedraal heet suster Leonie ons welkom en vertel ons meer oor die kerk en museum se geskiedenis. Sy vertel ook van die vyf bergpieke rondom Pella wat elkeen ’n kruis op het.
Die kruise simboliseer vyf engele wat waak oor hierdie klein gemeenskap in die middel van nêrens.
Die vriendelike suster Felicity bak vir ons dadelbrood en maak tee, en ons voel soos ware pelgrims met hul tuiskoms.
Hierna volg ons ’n roete deur droë rivierlope wat net aan die plaaslike bokwagters bekend is, om na Klein Pella terug te keer.
Moeg maar geestelik verryk en uitgerus het ons Klein Pella uiteindelik weer bereik.
Wie ken die land – die Boesmanland? Hierdie land wat ons gelei het oor die rant se kant. Wie sal vir ons kan sê? Dis hierdie land, my Boesmanland aan my hart se kant!
’n Groot teleurstelling het in ’n geleentheid en onvergeetlike ervaring verander – maar aanstaande jaar gaan ons beslis die “Vis” stap!
- Die Burger