Venesië se Bridge of Sighs opgeknap
2011-12-02 09:47
Kaapstad – Die opknappingswerk aan Venesië se gewilde Bridge of Sighs en die fasade van die Doge-paleis is uiteindelik ná drie jaar se werk voltooi, het amptenare Donderdag gesê.
Die projek – wat begin is nadat ‘n stuk marmer in 2007 uit die paleis geval en ‘n Duitse toeris op sy been getref het – het bestaan uit die skoonmaak van vuiligheid en opknapping van die kalksteen.
Die klein brug, wat aan die begin van die 17de eeu gebou is, verbind die paleis met ‘n tronk.
Volgens legende het gevangenes wat vir oulaas oor die brug stap voordat hulle opgesluit word, mismoedig gesug wanneer hulle die stad se lagune vir die laaste keer sien.
Een van die bekendste gevangenes wat oor die brug gestap het was Casanova, wat in 1955 in hegtenis geneem is en 15 maande later met die hulp van ‘n monnik uit die tronk ontsnap het.
Die brug, wat gewild is onder verliefde paartjies, het al vele digters, onder andere Lord Byron, geïnspireer.
Die opknappingswerk het €2,8 miljoen (R30,4 miljoen) gekos, met die helfte van hierdie geld wat deur reuse-advertensieborde, wat oor die brug en aangrensende gebou gehang is, ingebring is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP