Veiligheid op berg ná nóg ’n aanval bekyk
2011-02-08 08:44
Die Burger
Kaapstad - In minstens die vyfde misdaadaanval op Tafelberg vanjaar is ’n 24-jarige Sweedse toeris Saterdagoggend op Vlaeberg oorrompel en drie keer met ’n mes gesteek.
Die man is in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal vir sy wonde behandel nadat ’n Sanparke-gids op hom afgekom het. Hy is later ontslaan.
Ao. Bheki Xulu, Seepunt-polisiewoordvoerder, het Maandagaand gesê niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.
Die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid het ’n vergadering vir volgende week belê tussen Sanparke, wetstoepassers, fietsry- en stapklubs en ander belanghebbendes.
Volgens Albert Fritz, LUR van dié departement, sal die vergadering op 17 Februarie ’n geleentheid wees vir rolspelers om veiligheidskwessies saam aan te pak.
André van Schalkwyk van die groep Table Mountain Watch is egter onseker of dié vergadering resultate sal oplewer.
Hy het gesê sy organisasie is reeds sedert 2007 aktief en het onlangs uit frustrasie ’n meer aktivistiese standpunt begin inneem.
“Jy sal (die misdadigers) nie vang met die huidige patrollies nie. Dit help om sigbare polisiëring te hê, maar daar moet meer gedoen word. Ons moet daarop fokus om voorvalle te voorkom.”
Table Mountain Watch het self begin boekhou van voorvalle op die berg omdat Sanparke nie die statistieke wil bekend maak nie.
Volgens die organisasie was daar vanjaar reeds minstens vyf voorvalle op die berg en is daar die laaste paar jaar duidelike probleemgebiede te onderskei.
Merle Collins, woordvoerder van die Tafelberg Nasionale Park, het gesê hulle laat statistieke aan die polisie oor om te verseker dat vals alarms nie as geldige voorvalle geag word nie.“Die polisie ondersoek elke klag om vas te stel of dit waar is of nie,” het sy verduidelik.
“Ons is besig om weer na ons sekerheidsplan te kyk en pas ons maatreëls van tyd tot tyd aan. Dit help egter nie ons fokus op sogenaamde probleemgebiede nie. Die misdadigers sal bloot ander gebiede begin teiken.”
Volgens Collins is die park se personeel reeds dun gesaai.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger