Veiligheid belemmer reis na SA
2011-02-28 15:29
Kaapstad - Duisende toeriste wat na Suid-Afrika reis het steeds slegte ervarings as gevolg van veiligheid en sekuriteitsprobleme, het nuwe syfers van Toerisme Suid-Afrika getoon.
Ten spyte van die land se goeie infrastruktuur en ander aantreklikhede, soos die wildlewe, is kwessies rondom misdaad en veiligheid steeds ‘n groot faktor wat besoekers afsit.
Volgens die getalle is 17 000 toeriste deur veiligheid- en sekuriteitsprobleme geraak terwyl hulle tussen Julie en September 2010 op vakansie was.
Suid-Afrika sukkel steeds met hoë vlakke van misdaad, met die instituut vir sekuriteitstudies wat getoon het dat daar tussen 2009 en 2010 ‘n algemene toename in misdaad was.
Meeste van die mense wat die land besoek en aan die opname deelgeneem het, het na Gauteng gegaan, gevolg deur die Wes-Kaap en Mpumalanga.
Die redes vir die besoeke was eerstens vir plesier, gevolg deur besigheidsreis.
Die meeste mense tydens hierdie tyd het van Afrika gekom, gevolg deur Europa, met die grootste getal, 404 090, wat van Zimbabwe afkomstig was.
Van buite Afrika was die grootste hoeveelheid mense van Brittanje, met 94 875.
Lees meer by Times Live