Baie tel in Tafelberg se guns as 'n wonder
2011-11-04 08:32
Kaapstad – “Die berg is nie net ’n natuurwonder in die stad se agterplaas nie, maar ’n ook ’n ontwerpelement van die natuur.”
Só het Bernard Weber, die voorsitter en stigter van die veldtog Sewe Natuurwonders van die Wêreld, Tafelberg Donderdag beskryf.
Weber en Jean-Pierre de la Fuente, direkteur van dié veldtog, was Donderdag op ’n blitsbesoek aan die stad. Tafelberg is die enigste Suid-Afrikaanse natuurwonder onder die 28 finaliste.
“As ek kon kies, sou ek honderd of selfs duisend natuurwonders van die wêreld wou hê.” Mense kan net sewe dinge op ’n slag onthou en dus kan die wêreld slegs vir sewe wonders stem, het Weber gesê. Volgens De la Fuente het Tafelberg spesiale betekenis en is dit een van sy gunsteling-finaliste.
“Ek het die berg reeds verskeie kere besoek. Dit het só ’n wonderlike storie, wat alles op daardie eiland begin,” het hy gesê en na Robbeneiland gewys.
Miljoene mense dwarsoor die wêreld neem deel aan die vyf jaar lange veldtog. Die wenners word aanstaande Vrydag om 21:07 aangekondig.
De la Fuente het gesê Tafelberg het nog baie stemme nodig. “Ongelukkig kan ek nie stem nie, maar as ek kon, sou ek beslis vir Tafelberg gestem het.”
Volgens Sabine Lehmann, hoof van die Tafelberg-kabelspoor, is daar geen verskoning vir mense om nie te stem nie. “Mense kan net een keer op die veldtog se web- en Facebook-blad stem, maar jy kan so veel SMS’e en MXit-boodskappe stuur as wat jy wil.”
Stem deur die woord “table” na 34874 te SMS. Dit kos R2 per SMS. Of stem deur www.new7wonders.com te besoek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger