Uitgewekenes smag die meeste na biltong
2012-04-26 22:01
Johannesburg – Suid-Afrikaners wat in Londen woon, verlang die meeste na biltong, droëwors en boerewors wanneer dit by kos kom, het ‘n meningspeiling getoon.
“Dit is nie verbasend dat drie van die kossoorte wat in ons top-tien-lys voorgekom het, van Hollandse herkoms – biltong, droëwors en boerewors – was nie,” het Ryan Mackie van SA Hotels, wat die navorsing uitgevoer het, gesê.
“Dit is interessant om die langtermyn-impak wat die Hollanders op Suid-Afrika se kultuur gehad het, te sien.”
Dié gunstelinge word deur Sparletta Creme Soda, Simba Nik Naks en Mrs Balls-blatjang gevolg.
Die ander vier kossoorte wat die top-tien gehaal het, was Peppermint Crisp, Ouma-beskuit, mieliepap en Tennis-beskuitjies.
Die navorsing is in Londen uitgevoer, waar omtrent helfte van die 140 000 Suid-Afrikaners wat na raming in die Verenigde Koninkryk woon, gevind is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA