Uganda se moordkampe word toeriste-bestemming
2011-06-23 12:41
Uganda beplan om ou kampe waar rebelle-vegters burgerlikes vermoor en verplaas het aan besoekers oop te stel, het ‘n senior toerismebeampte gesê.
Honderde burgers is in die noorde van Uganda vermoor tydens ‘n oproer deur die Lord’s Resistance Army (LRA), ‘n Ugandese rebellegroep wat bekend is vir hulle wreedheid.
“Die idee is om te dokumenteer wat daar gebeur het, om besoekers in te lig oor wat die mense daar moes deurgaan en om hulle te help om nou in vrede te leef,” het Grace Aulo, die kommissaris vir toerisme-ontwikkeling, gesê.
Een van die voorgestelde bestemmings is die Barlonyo-kamp, waar die LRA sowat 330 mense op een middag in 2004 vermoor het.
“Hierdie geskiedenis was donker, maar mense moet kan sien wat toe aan die gang was,” het Aulo aan AFP gesê.
Byna twee miljoen mense is in ‘n uitgebreide netwerk van kampe ingedwing tydens twee dekades van konflik tussen die regering en rebelle.
Die kampe is in 2009 gesluit nadat die Ugandese weermag die LRA tot in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo verdryf het, waar die groep steeds aktief is.
Volgens Aulo is daar al begin om van die kampe reg te kry as amptelike toerisme-besoekpunte, maar sy kon nie sê wanneer hulle vir die publiek sou oopmaak nie.
Amptenare hoop om besoekers van Uganda sowel as ander lande te trek.
Die LRA het byna 2 400 mense vermoor en 3 400 ontvoer in die noordooste van die DRK, Sentraal-Afrika-Republiek en die suide van Soedan sedert die weermag in 2008 ‘n militêre offensief teen die groep geloods het, het die Human Rights Watch gesê.
Dié menseregtegroep het die Ugandese weermag ook beskuldig van wydverspreide mishandeling van burgers tydens die konflik, insluitende onwettige moorde en marteling.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP