Twee-wiel woema vir die skoner geslag
2010-04-06 08:20
Kaapstad – Lekker groot motorfietse om op grondpaaie te ry het hulle ’n nuwe lus vir die lewe gegee, het Hilsa van Heerden van Vredendal en Renatha Wedderburn van Port Elizabeth aan EBEN HUMAN vertel tydens een van Moto-Avontuur se uitstappies.
As jy ’n vurige rooikop soos Hilsa van Heerden deesdae op haar 1200cc-motorfiets sien rondrits, sal jy skaars kan glo sy was ’n predikantsdogter en ’n top-atleet wat ook van borskanker herstel het.
Dié oud-Matie was op haar dag ’n kranige hekkiesloper en het in 1986 Springbok-kleure in die sewekamp verwerf.
Die motorfietsgogga het haar eers in 2007 gebyt, maar skaars twee weke nadat sy vir haar ’n tweewiel aangeskaf het, het sy van die trappe by haar gastehuis geval en haar enkel gebreek.
“Ek kon daarna ’n jaar lank nie ry nie,” vertel sy. “Op Vredendal druk ek ook maar my groot bos hare alles onder die valhelm as ek ry. Eers buite die dorp sal ek die hare weer losmaak.
“Ek het maar in ’n konserwatiewe huis grootgeword,” vertel dié gebore Vrystater.
Nadat sy verlede jaar saam met Moto-Avontuur in Namibië op grondpaaie getoer het, is sy weer vol selfvertroue.
Soos in haar atletiekdae raak sy net haastig met die ryery.
Ook Renatha Wedderburn het eers op 33-jarige ouderdom vir die eerste keer ’n motorfiets opgesaal.
“Ek het altyd gesê dit lyk so lekker,” vertel sy. Sy en haar man, Christopher, het in vertoonlokale in die Baai begin rondkyk en in 2003 hul motorfietse gekoop.
“Ek dink al fout wat ek gemaak het, was om met ’n 650 te begin. Iets kleiner sou beter gewees het,” het Renatha gesê.
Renatha se ma het verlede jaar in die Kaap gelees oor Moto-Avontuur se uitstappies en dit onder haar dogter se aandag gebring.
Dié het toe besluit om haar man te verras met ’n uitnodiging om saam op Moto-Avontuur se uitstappie op die Ossewa-roete te ry.
Die twee jong kinders is by hul grootouers gelos en daar is die Vrydagoggend uit Port Elizabeth vertrek.
Saterdagoggend het hulle op Montagu by Moto-Avontuur se groep aangesluit, en die eerste verrassing was om te sien hoe Kaalvoet Thysie (Robert Muller) van Worcester op sy Vespa-bromponie heelpad saamry.
“Elkeen van ons het ’n roetebeskrywing van die organiseerders ontvang, maar ek het gedink ons sou verdwaal op die 240?km se grondpaaie wat voorgelê het,” vertel Renatha.
Nadat die groep deur die pragtige Oubergpas gery het, het die hooforganiseerder, Mouton van Zyl, die 55 motorfiets-entoesiaste getrakteer op ’n besoek aan die Sanbona-natuurreservaat, wat ook olifante en leeus huisves.
“Dit was nogal scary, want jy kon die borde lees wat waarsku teen die leeus,” het Renatha gesê.
Veldwagters het egter die motorfietsgroep gelei op ’n pad wat besaai was met olifantmis – maar dit is ook al wat van dié gevaarlike diere te siene was.
Middagete is op Barrydale in die pampoen-restaurant genuttig.
Hier is heerlik ontspan, want die moeilikste deel van die roete oor die Gysmanshoekpas het daarna voorgelê.
Los klippe op ’n klein deel van die roete en skerp draaie het gewag en dit was op een van hierdie draaie wat Renatha te vinnig afgepyl het.
“Ek het ’n wal getref voordat ek deur die lug gevlieg het,” vertel Renatha.
Van Zyl het die ongeluk gesien en self baie groot geskrik.
“Die volgende oomblik trek sy deur die lug en die motorfiets slaan bollemakiesie voor hy tussen die bosse land. Ek het my reggemaak vir die ergste.”
Die 800cc-motorfiets is met groot moeite terug na die pad gesleep, maar hy was nie ernstig beskadig nie.
En wat het die ryer oorgekom? “Daar was net ’n groot pendoring in my boud,” het sy agterna verlig en met ’n groot glimlag vertel by die landgoed Falcon River buite Swellendam, waar die groep oornag het.
Wedderburn en sy vrou het gou bevriend geraak met die ander bikers. Met die gulhartige Henk van Niekerk van Zulu Overland wat weer die tente en kos verskaf het, kon dit ook nie anders nie.
Moto-Avontuur se volgende uitstappie is na Strandfontein aan die Weskus, en Hilsa het al haar rymaats genooi om dan by haar gastehuis op Vredendal aan te doen.
Sy het gesê sy hoop die Wedderburns kan ’n plan maak om daar te wees om die Weskus-gasvryheid te ervaar.
Hilsa is deesdae ook 'n wynmaker en niemand sal Vredendal met 'n droë keel hoef te verlaat nie.
"Voorheen het ek net bestaan. Nou leef ek. Kanker maak jou nogal 'n bietjie bang vir die dood," sê Moto Avontuur se gewilde rooikop.
TOER SAAM
Die toere van Moto-Avontuur word goed ondersteun deur motorfiets-entoesiaste wat met hul dubbeldoel-fietse die grondpaaie van die Wes-Kaap wil verken.
Dit is duidelik dat die hooforganiseerder, Mouton van Zyl, ’n wenresep het.
Bystandvoertuie, mediese personeel en die ondersteuning van Henk van Niekerk van Zulu Overland dra alles by tot die uitstappies se welslae.
Die volgende uitstappie is op 10 April. Daar word dan op grondpaaie na Strandfontein noord van Lambertsbaai aan die Weskus gery.
Dit is die Namakwalanders se gewilde uitspanplek langs die see. Zulu Overland se tente sal opgeslaan wees wanneer die ryers daar aankom. ’n Heerlike aandete en stewige ontbyt word ook bedien.
Moto-Avontuur se toer in Mei in Namibië is reeds volbespreek. Net twintig ryers word toegelaat en ’n tweede toer word nou in Augustus gereël.
Die Namibiese toer begin en eindig in Windhoek. Daar word na Kaap Kruis in die Skedelkuspark gery en daarvandaan na plekke soos Swakopmund en Solitaire.
Moto-Avontuur verskaf al die ondersteuning. Besoek die webtuiste www.motoadventuresa.com vir inligting of bel Mouton van Zyl by 00826582795.
– Burger