Twee op lughawe beseer toe loopgang ingee
2011-08-25 10:19
Los Angeles – Die kaptein en ‘n passasier van ‘n American Airlines-vlug is Woensdag beseer nadat hulle sowat drie meter geval het toe ‘n loopgang by die Los Angeles Internasionale-lughawe inmekaar gestort het, het ‘n woordvoerder van die lugredery gesê.
Die vlieënier van die Boeing 737 en ‘n passasier was besig om vlug-557 te verlaat nadat dit omstreeks 18:40 van Chicago geland het, het woordvoerder Rhonda Rathje gesê.
Toe hulle op die loopgang klim, wat passasiers van die vliegtuig na die lughawegebou neem, het dit ingegee en hulle het minstens drie meter ver geval.
Beide is na die Daniel Freeman-gedenkhospitaal in Marina del Rey geneem, het ‘n woordvoerder van die brandweer gesê.
Hulle het gekla van pyn in hul enkels, rûe en nekke, het die Los Angeles Times berig.
Volgens Rathje was die passasier behandel en ontslaan, maar sy het nie geweet wat die toestand van die vlieënier was nie.
Daar was geen skade aan die vliegtuig nie, het Diana Sanchez, woordvoerder van die lughawe, gesê.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek, het sy bygevoeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP