Top-10 restaurante wat deur bekendes besit word
2010-08-21 04:07
New York – Reisigers wat hulself met ‘n ete en ‘n porsie roem wil bederf, kan hulself in ‘n verskeidenheid restaurante verlustig wat deur bekendes besit word.
Hier is die lys van die top-tien restaurante wat die reiswebtuiste TripAdvisor aanraai:
1. Nobu, New York City, New York
Die akteur Robert DeNiro het Nobu in 1994 saam met die sjef Nobuyuki Matsuhisa geopen. Daar is al 21 van dié moderne Japannese restaurante wêreldwyd gestig, maar die een in New York bly tops en bied onder andere ‘n verskeidenheid soesji en sashimi aan.
2. one sixtyblue, Chicago, Illinois
Alhoewel die basketbal-ikoon Michael Jordan talle restaurante in New York besit, staan one sixtyblue in Chicago uit weens die gesofistikeerde kos wat bedien word.
3. P.J. Clarke's, New York City, New York
P.J. Clarke's is ‘n kroeg in Manhattan wat terugdateer tot 1884. Die akteur Timothy Hutton het in 2002 as vennoot aangesluit. Bekendes soos Frank Sinatra en Jacqueline Kennedy Onassis was in hul dae bekende gesigte wat gereeld daar te sien was. Die atmosfeer is glo net so lekker soos die burgers.
4. Ana Mandara, San Francisco, Kalifornië
Ana Mandara is deur die Hollywood-sterre Don Johnson en Cheech Marin geopen terwyl hulle die televisieprogram Nash Bridges geskiet het. Die kos word deur hul Viëtnamese sjef, Khai Doung, se geboortedorp Nha Trang, geïnspireer.
5. Beso, Los Angeles, Kalifornië
Beso is die breinkind van die bekende sjef Todd English en die TV-ster Eva Longoria. Longoria en haar man Tony Parker besoek gereeld die restaurant en bekende gesigte soos Christina Milian en Ludacris is al hier raakgesien.
6. Gladys Knight and Ron Winans' Chicken & Waffles, Atlanta, Georgia
Gladys Knight het haar eerste restaurant wat wafels en hoender bedien, in 1997 saam met haar seun Shanga Hankerson en vriend Ron Winans oopgemaak. Die ketting besit al vier van dié restaurante.
7. Zoom, Park City, Utah
Die akteur Robert Redford se Zoom bedien Amerikaanse kos en is ‘n huldeblyk aan Park City se geskiedenis. Reisigers is geneig om verlief te raak op die restaurant se outydse sjarme.
8. Alice Cooper's Town Sports Bar & Grill, Phoenix, Arizona
Die rockster Alice Cooper se sportkroeg in Phoenix herinner sterk aan sy eie oorbodige, teatrale persoonlikheid. Die etes word na bekendes vernoem soos die Amerikaanse voetbalster Tedy Bruschi, die rocker Kid Rock en selfs die TV-persoonlikheid Vanna White.
9. Cafe Zoetrope, San Francisco, Kalifornië
Die spyskaart van die regisseur Francis Ford Coppola se Cafe Zoetrope sal reisigers met heerlike Italiaanse kos bederf. Dié restaurant word versier met gedenkwaardighede uit flieks wat hy self versamel het.
10. Southern Hospitality BBQ, New York City, New York
Die popster Justin Timberlake se nuutste restaurant bring sy wortels in Memphis, Tennessee en die gasvryheid waarvan dié mense in die suide bekend is, na New York.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters