Tokio-hotelle loop leeg
2011-03-24 15:27
Tokio – Die reuse en gewoonlik besige ingangsportaal van die luukse Imperial Hotel in die hartjie van Tokio is nou skraps belig en byna leeg, behalwe vir 15 hotelwerkers wat gereedstaan om gaste, waar waarskynlik nie gaan opdaag nie, te groet.
Tokio se hotelle het leeggeloop sedert die aardbewing en tsoenami wat die land getref het.
Talle hotelle is gedwing om hul deure te sluit nadat buitelanders gevlug het en besighede hul vergaderings en konferensies as gevolg van die kernkrises gekanselleer het.
“Sedert 11 Maart het alles verander; seminare, bankette en besprekings is gekanselleer – veral besprekings deur buitelanders,” het Uko Komatsuzaki, hoof van openbare betrekkinge vir die Imperial Hotel, aan AFP gesê.
“Ons is gewoonlik 80% vol bespreek hierdie tyd van die jaar, maar ons vlak van besetting is nou seker die helfte daarvan,” het hy gesê.
Die kernkrises by die Fukushima-kernaanleg, 250 kilometer noordoos van Tokio, en die ontdekking van radioaktiewe partikels in die stad se kraanwater, het buitelandse reisigers afgeskrik.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP