Toeriste verstaan nie diere van ons land
2010-09-01 08:42
Kaapstad - ’n Handleiding vir buitelanders om ons wilde diere te identifiseer en te hanteer, kan ’n blitsverkoper wees, skryf Jackie Pienaar-Brink ná haar besoek aan die Pilanesberg:
Die “buitelandse situasies” wat ’n mens vroeër vanjaar tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in die Pilanesberg Nasionale Park kon beleef, was soms nogal baie snaaks.
Só was die Britse egpaar net hoogs in hulle skik.
Hulle het pas twee wildehonde hier in die noordooste van die Pilanesberg gewaar – iets wat besoekers nie sommer beskore is nie.
En dan was dit boonop twee kleintjies, vertel die man agter die stuurwiel entoesiasties deur sy oopgedraaide venster.

Vir die Kaapse gesin wat in ’n viertrek langs hulle stilgehou het, is die Britte se opgewondenheid duidelik sigbaar.
Die Kapenaars kom hou al jare lank elke Juliemaand hier in die Pilanesberg in Noordwes vakansie, maar hul paaie het nog nooit met dié van ’n wildehond gekruis nie.
Die bestuurder trek summier agter die Britte in, skakel sy voertuig af en beveel sy twee jong seuns, wat albei halflyf buite hang, om dadelik hulle sit in die kar te kry.
“Wildehonde is gevaarlike diere,” waarsku hy.
As daar twee baba-wildehondjies is, is minstens hul ouers ook in die omtrek en hulle sal nie skroom om te hap aan ’n agterent wat by ’n oop venster uithang nie.
Almal soek wildehond. Die minute stap aan. Uiteindelik stoot die Britse bestuurder terug tot langs die Kapenaars.
“Kyk,” sê hy, en hou trots sy kamera in die lug sodat die skermpie sigbaar is. “Hier het ek een van naby afgeneem.”
Dis ’n pragfoto. Dis ook tyd vir die waarheid.
Dis nie ’n baba nie. Dis ook nie ’n wildehond nie. Dis ’n volgroeide silwerjakkals.
“Dit het nes ’n hond gelyk,” is al wat die verbaasde Brit kan uitkry toe hy reggehelp word.
By die besoekersentrum in die middel van die Pilanesberg-park gons dit in Engels, Duits, Italiaans, Nederlands ... eintlik in die taal van enige van die spanne wat aan die Wêreldbeker kom deelneem het.
’n Verskeidenheid wilde diere word hier die besoekers se gesigsveld binnegelok deur ’n soutlek en ’n mensgemaakte dammetjie reg langs die sentrum.
Die koedoes, vlakvarke, bosvarke, blouwildebeeste en kameelperde wat hierheen kom, trek aandag, maar nie naastenby soveel soos die alomteenwoordige blouapies, wat ten beste as lastig beskryf kan word, nie.
Dis die een foto na die ander en lang video-opnames van blou-apies wat tussen die besoekers rondwip en halflyf in ’n vullisdrom duik op soek na iets om te eet.
Almal koer en lag. Dis nou totdat een blouaap blitsig ’n hamburger uit die bord reg voor ’n Duitser gryp.
Toe lag almal buiten die Duitser, wat met elke proeslag net kwater word.
In ’n ablusieblok in Bakgatla se kampterrein is ’n jong Nederlandse vrou besig om haar nat hare te kam.
Sy is geselserig en vertel ’n vrou wat pas binnegekom het, van al die diere wat sy al hier op haar Pilanesberg-vakansie gesien het – apies, sebras, springbokke, olifante, blouwildebeeste, renosters ...
En ’n buffel? wil die ander vrou nuuskierig weet oor die een dier wat besoekers waarskynlik die meeste in die Pilanesberg ontwyk – in so ’n mate dat baie glo dit het hier uitgesterf.
Nee, nog nie, sê die Nederlander met ’n frons.
“En ek kan dit nie verstaan nie. Oral buite die stede lê hulle sommer reg langs die pad. Hoekom sal hulle dan nie hier gesig wil wys nie?”
Vertel aan Buite die snaakse goed wat jy al gesien het. Stuur dit per e-pos na buite@media24.com.
- Die Burger