Toeriste stroom in rekordgetalle na Moederstad
2012-02-28 16:00
Kaapstad – Die verlengde somer in die Moederstad het gelei tot die stad se beste vakansieseisoen, met kenners wat sê voorspellings vir ‘n verbeterde seisoen was in die kol.
Onlangse syfers wat deur die Kaapse Kamer van Handel bekendgemaak is, dui op ‘n 14% toename in die hoeveelheid oorsese besoekers by die Kaapstad Internasionale Lughawe.
Dit is op van 214 607 vir die 2010/11-seisoen na 245 029 hierdie jaar.
Besoekersgetalle het oor die algemeen met 10% gestyg, met die meeste internasionale besoekers wat van die VSA en Duitsland was en plaaslik van KwaZulu-Natal, het Skye Grove, kommunikasiebestuurder vir Kaapstad Toerisme, gesê.
Kaapstad se toeriste-aantreklikhede het ook ‘n merkwaardige toename in toeristegetalle ervaar.
“Die hoof-aantreklikhede vaar baie goed, met die Tafelberg Nasionale Park wat ‘n toename van 20% ervaar het. Ons is ook baie tevrede om te sien Robben-eiland het ‘n 10% toename in besoekersgetalle ervaar oor die hele tydperk,” het Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, gesê.
– Lees meer by iol
– Volg Nuus24 op Twitter